Brendan Barnes

Kinematograaf

Brendan Barnes

Brendan Barnes is ’n jong, bekroonde filmmaker van Johannesburg wat reeds 12 toekennings vir sy kinematografie ontvang het, al het hy eers in 2010 sy BA honneursgraad in Motion Picture Medium behaal.

In 2011, ontvang hy twee brons Loeries en in 2012 word hy met ’n silwer loerie bekroon.

Brendan het ’n indrukwekkende portefeulje en dis duidelik dat hy vinnig ’n naam vir homself gemaak het as talentvolle kinematograaf.

Met vier vollengte rolprente, drie seisoene van ’n dramareeks en verskeie bekroonde kortfilms op sy kerfstok, het hy suksesvol sy plek gevestig as ’n talentvolle langformaat-kinematograaf. Sy werk kan op sy webtuiste (www.brendanbarnes.com) gesien word en sluit luukse advertensies, fantastiese musiekvideo’s asook dokumentêre programme in.

Hy het onlangs ’n SAFTA-toekenning ontvang vir Beste Kinematografie in ’n TV- komediereeks asook ’n SASC Sigbare Spektrum Toekenning (Visible Spectrum Award) vir Kinematografie in ’n musiekvideo.

“Om deel van die Vir Die Voëls-span te wees was ’n absolute plesier! Dit was baie genotvol om terug te gaan in tyd en Suid-Afrika in die sewentigs te verfilm. Om die voorkoms van daai tyd deurlopend te hou, was dikwels ’n uitdaging en het gereeld komposisies gedikteer volgens wat uit die raampie gelaat moet word. Beligting was ook nie altyd maklik nie omdat ons die kamera aan die beweeg wou hou om meer tonele met minder skote vas te vang. Dit het genoodsaak dat ons baie natuurlike ligbronne moes gebruik en tonele moes binne die raampie en beligtingsbeperkings van die plek moes blok. Ek en die regisseur, Quentin Krog, het besluit om ouer kameralense te gebruik om ’n ‘sagter’ voorkoms – soos in foto’s van ouds – te skep. Moderne lense neig om baie skerp en gefokus te wees wat iets is wat ons wou vermy.”