Drikus Volschenk

Willem De Klerk

Drikus Volschenk

Drikus is ’n uitmuntende aktuer en het ’n Fiësta-benoeming ontvang vir sy bekroonde musiekproduksie In die Grond van die Wind wat handel oor die Afrikaner-diaspora in Argentinië.

Drikus Volschenk is grootliks bekend vir sy rol as Coen in die sepie Binnelanders op kykNET

drikus-2

Drikus was in Potchefstroom op skool en matrikuleer in 1997 met vlieënde vaandels op verskeie gebiede: akademie, leierskap, kuns en kultuur, musiek en sport. Hy het by die Noordwes Universiteit ingeskryf en sy graad in Besigheidskommunikasie behaal na hy in Kunsgeskiedenis, Grafiese Ontwerp, Kreatiewe Skryfkuns en Toerisme gespesialiseer het. Drikus het daarna ook sy honneursgraad voltooi waar hy in Oudiovisuele-, Massa-, Besigheids- en Nuwe Media gespesialiseer het, 13 onderskeidings ontvang het en ook as Beste Student in Kommunikasiestudies aangewys is.

Na universiteit is Drikus Londen toe waar hy skoolgegee het. Daar het hy deeltyds Musiekteater aan die Guildford School of Acting studeer. Na twee jaar in die Verenigde State het Drikus na Suid-Afrika teruggekeer waar hy as musiekstudent by die School of Motion Picture Medium and Live Performance (AFDA) aangesluit het. Hy het as skermakteur gegradueer met nominasies vir die Beste Manlike Hoofrolspeler en toekennings vir Beste Kortfilm en Toneelspel in professionele produksies vir televisie en die verhoog.

Drikus het sy professionele loopbaan as deeltydse akteur in Januarie 2006 begin en het sedertdien al in talle televisieproduksies verskyn, onder andere: Isidingo, Amalia, Dit Wat Stom Is, Begeertes, City Ses’la, Villa Rosa, Generations, The Lab, Jozi-H, Hard Copy, Erfsondes, Egoli, 7de Laan, Riemvasmaak, Plein Straat, die sitkom Askies en Interrogation Room. Hy het ook verskyn in die speelfilms Skin en Ace of Hearts in 2008 en die bekroonde Skoonheid in 2011 asook Superman – Around The World wat in 2017 vrygestel word.

Hy is ook te sien in die internasionale reeks Madiba. Drikus se filmkrediete sluit verder in: Durban Poison, Ballade vir ’n Enkeling, Treurgrond, Dis Ek, Anna en Jagveld.

Drikus is ’n senior lektor in Screen Acting by AFDA in Johannesburg

Karakter – Willem de Klerk

Willem is ’n eerlike, hardwerkende Afrikanerman. Hy en sy vrou, Dina, is al jare getroud en sy is steeds die liefde van sy lewe. Willem en Dina se kinders, Sampie en Marieda, kom altyd eerste en Willem sal alles in sy vermoë doen om sy kinders te ondersteun en hulle te beskerm. Hy is baie lief vir musiek en daar is ’n gemaklikheid in Willem te bespeur wat mense van enige soort na hom toe aantrek. Hy laat mense veilig voel. Daar is ook ’n baie spesiale band tussen Willem en Dina wat mens dadelik oplet en jou laat voel dat jy ook só ’n verhouding wil hê. Willem is ’n man van God, maar kan lag en dans en vrolik wees. Hy het ’n goeie sin vir humor en probeer altyd sy medemens respekteer en gelukkig maak.