Lara Kinnear

Marieda de Klerk

Lara Kinnear

Lara Kinnear (néé Coetzee) oorspronklik van Pretoria, het gematrikuleer aan Hoërskool Waterkloof met dansstudies, musiek en drama as haar hoofvakke

Sy dans al haar hele lewe lank en is opgelei in ballet, kontemporêr, Hip Hop en moderne dans. Op die ouderdom van 15 word sy gekies as deel van die Suid-Afrikaanse span om Suid-Afrika by die Wêreld Danskampioenskappe in Los Angeles te gaan verteenwoordig

Lara was al deel van produksies soos Cinderella, Charlie Brown, Fusions, Broadway Numbers, Dracula, Eve-o-lution, Grease, Peter Pan en Versversnit. Sy is opgelei as sangeres in die style van klassiek, musiekteater asook rock en het kursusse voltooi by Unisa en Trinity College of London: Rock. In 2011, voltooi sy haar BDram graad aan die Universiteit van Stellenbosch met spesialisering in kabaret. Hierna voltooi sy haar nagraadse onderwysdiploma deur Unisa en begin ook haar studies in Sielkunde. Gedurende haar studies aan Unisa het sy in Kaapstad gebly en het met ywer aan haar uitvoerende kunsteloopbaan gewerk en dus talle oudisies bygewoon. Haar uithou- en aanhouvermoë is beloon met rolle in internasionale advertensies, musiekblyspele en kinderproduksies.

Lara is ’n toegewyde ondersteuner van dierewelsyn en spandeer baie van haar vrye tyd as vrywilliger en pleegma vir weesdiere by AWSS (Animal Welfare Society of Stellenbosch). Na aanleiding van hierdie passie het sy ’n kursus in Ethology (Dog Behaviour and Training) voltooi.

In 2012, stig sy haar eie dansakademie, genaamd Five Six Seven Eight Dance Academy, waar sy die primêre dansafrigter is. Toe sy in 2015 met haar beste skoolvriend getrou het, het sy en die dansakademie na Pretoria geskuif.

Sy slaan in 2016 haar eerste rol in ’n Afrikaanse film los as Marieda de Klerk in Vir Die Voëls

Lara Kinnear kan hoegenaamd nie besluit of sing, dans of toneelspel haar gunsteling dissipline is nie en koester boonop ’n liefde vir skryf

Marieda de Klerk, vertolk deur Lara Kinnear, is ’n positiewe meisie wat lekker kan lag en haar hart op haar mou dra

Karakter – Marieda de Klerk

Marieda de Klerk is Sampie se suster en van kindsbeen Irma se beste vriendin. “Marieda was ’n heerlike karakter om te vertolk en ek dink dis omdat ek lekker met haar kon vereenselwig. Sy is ’n positiewe, lewenslustige meisie wat haar hart op haar mou dra, maar is nie skugter nie en staan vir haarself op. Sy is vergewensgesind, sien die mooi in almal raak en haar lojaliteit is duidelik te sien in haar vriendskap met Irma en veral haar verhouding met Karel. Marieda het ’n stoute speelsheid wat beslis hier en daar ’n tannie in die sewentigs se oë sou laat rek het.”