Mary-Sue Morris

Haar en Grimeer-Kunstenaar

Mary-Sue Morris

Mary-Sue is meer as net ’n mooi gesig wat besonders hard werk. Sy het ’n ongekende aanslag vir spesiale effekte en is ’n besigheidsvrou van formaat.

“Om op Vir Die Voëls die grimering en hare te behartig was ’n heerlike uitdaging tydens ’n besige jaar. Dit was ook groot werk om al die ekstras se voorkoms in lyn te hou met die sewentigs; voor halfgeskeerde koppe en pienk ombre lokke. Ons moes heelwat van die aktrises se haarkleure aanpas sodat die ouer en jonger weergawes ooreen kon stem met mekaar. Daai tyd het die mans groot snorre gehad en gelukkig kon ons akteurs hulle eie pragtige snorre kweek.”

Vanaf ’n jong ouderdom het Mary-Sue besef sy wou ’n grimeerkunstenaar en haarstilis word, en het sy hierdie droom verwesenlik deur te begin om as ’n sekretaresse by ’n produksiemaatskappy te werk waar sy vinnig bevorder is tot produksie-assistent.

Sy het tegelykertyd kursusse by Kryolan begin bywoon om haar vaardighede as grimeerkunstenaar te verfyn. Kort voor lank, is sy bevorder tot grimeerkunstenaar, haarstilis en kostumier.

Mary-Sue het begin werk as vryskutgrimeerkunstenaar, maar haar natuurlike aanvoeling vir stilering het haar gehelp om oor die afgelope 13 jaar nou betrokke te wees met die grimering, haarstilering, spesiale effekte en rekwisiete op verskeie televisiereekse, musiekvideo’s, modevertonings, tydskrifte en rolprente.

Van haar werk op rolprente sluit in Pad Na Jou Hart (rekwisiete), Ballade vir ’ n Enkeling (grimering, hare en spesiale effekte grimering), Suurlemoen (rekwisiete), Land of Milk and Honey (grimering, hare en spesiale effekte grimering), Treurgrond (grimering, hare en spesiale effekte grimering), Spook van Uniondale (rekwisiete), Trouvoete (grimering en hare), Skorokoro (grimering en hare), Vir Altyd (grimering en hare), Jou Romeo (grimering, hare en kostuumontwerp) Nul Is Nie Niks Nie (grimering en hare) en Vir Die Voëls (grimering en hare).