Neels van Jaarsveld

Ivan Humpel

Neels van Jaarsveld

Neels van Jaarsveld is ’n veelsydige Suid-Afrikaanse akteur en storieverteller wat bekendheid verwerf het vir sy rol as Dokter Gideon Basson in die Afrikaanse seep Binnelanders en sy rol in die Klipdrift advertensie as die Eish-ou.

Kort na sy geboorte in Kuilsrivier in die Kaap, het die Van Jaarsveld-familie na Johannesburg verhuis. Hy was hoofseun van Laerskool Auckland Park en voltooi matriek aan Hoërskool Linden. Neels het sy BA Drama graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi waarna hy sy professionele loopbaan as akteur begin het. Aan die einde van sy derde jaar sluit hy by Marthinus Basson se teaterproduksiemaatskappy Vleis, Rys & Aartappels aan.

Van Jaarsveld het al hoofrolle in verskeie televisiereekse vertolk, onder meer Hard Copy, Known Gods, On the Couch en Vloeksteen.

Hy het ook al gasverskynings gehad op die televisiereekse Yizo Yizo, SOS, Madam and Eve en Cave Girl, ’n BBC-reeks.

Hy het ook een van die hoofrolle vertolk in die internasionale rolprent The Bang Bang Club, met Ryan Phillipe, Malin Akerman en Frank Rautenbach. Sy teaterkrediete sluit in Mamma Medea, Spanner, De Familie Wagenaer, Skroothonde, Japes, Altyd Jonker, Verkeer en Boks.

Van Jaarsveld is ook ’n kranige en toegewyde golfspeler met ’n voorgee van tien en het al vele korporatiewe geleenthede as MC aangebied

Neels van Jaarsveld is besonders veelsydig en het onlangs ’n maatskappy, Woodu, begin wat juweliersware en kuns uit hout skep.

Karakter – Ivan Humpel

“Ek speel die rol van die wispelturige, kyk-te-diep-in-die bottel, eienaardige en onpeilbare Ivan Humpel. Hy worstel met verskeie dinge maar die werklikheid haal hom later in en lei tot ’n wending in sy lewe.”

Neels is so lief vir gholf dat hy ’n toneelstuk daaroor gedoen het met die naam Innie Rof.