Nerine Pienaar

Kostuums

Nerine Pienaar

Nerine se persoonlike styl is speels en elegant.

Met ’n trotse Afrika-oorsprong en internasionale kern het Nerine ’n stewige posisie in die film, advertensie- en vermaaklikheids-bedryf met onoortreflike styl, wat sterk vorentoe beweeg, gekerf.

Sy verseker dat ’n ieder en ’n elk met wie sy werk aangetrek is in die heel beste kostuums.

Nerine het ’n natuurlike aanslag vir mode en het ’n sterk agtergrond in modeontwerp, en boonop 14 jaar se plaaslike en internasionale ervaring. Nerine en haar garderobe-span is

bekend vir hul talentvolle en kreatiewe skeppings met ’n sterk fokus op individualiteit.

Haar winkel The Wardrobe Studio is in Bordeaux in Johannesburg geleë en van daar af verskaf sy die plaaslike filmbedryf met ’n huurfasiliteit wat ’n wye verskeidenheid klere aanhou.

Na 2010, het die Safta-toekennings vir haar kostuumontwerp begin inrol. Sy het in 2010 ’n Safta vir Mr Bones 2 ontvang en ook in 2013 vir Pretville. Sy is ook genomineer vir haar werk aan Semi Soet (2013) en Dis Ek, Anna (2016).

“Ek wou baie graag ’n oorspronklike trourok uit die sewentigs vir Irma se trourok gebruik het en die een wat ek opgespoor het, was vir my ’n hoogtepunt.

“As deel van my navorsing het ek vir familie gevra om vir my hul troufoto’s te stuur, op Facebook het ek vriende gevra vir hul ouers se troufoto’s en ek het natuurlik ook ’n paar ou Huisgenote bestudeer. Gewapen met my verwysingsmateriaal het ek uiteindelik by Volkshulp se Liefdadigheidswinkel op die perfekte rok af gekom. Vir my was dit uiters belangrik hoe Irma se trourok op die groot skerm sou vertoon, want die rok moes mooi beweeg wanneer sy dans.

“Die sluier is ook oorspronklik en bestaan uit regte Coupier-kant en net en dit behoort aan my wonderlike moeder, Willi Pienaar, wat sy op haar troudag gedra het. Moeder se sluier is al die pad van Betlehem in die Oos-Vrystaat ingevoer.”

Nerine en haar span het ’n enorme werk gehad met Vir die Voëls want al die agtergrondspelers moes ook volgens die periode geklee gewees het.