Quentin Krog

Reggiseur

Quentin Krog

’n Man met vele talente – Quentin is nie slegs ’n gevestigde vryskut-akteur en stemkunstenaar nie, maar het ook ’n natuurlike aanslag agter die kamera as regisseur.

Die gogga het hom op 19-jarige ouderdom gebyt toe hy op ’n dag, tydens die voltooiing van sy dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch, begin karring en speel het met ’n rekenaar, sy pa se digitale videokamera en “primitiewe” redigeringsagteware.

Vanaf 2004, is Quentin betrokke by van Suid-Afrika se beste film-, televisie- en teaterprojekte. Sy mees onlangse optredes kan gesien word in die komediese aksiefilm Blitzpatrollie en kykNET se dramareekse Donkerland, Vloeksteen, Boland Moorde, Swartwater (SABC) en die kykNET-kortfilm Die Buurtwag. Sy regisseurskrediete
sluit televisiereekse en films in, soos

Sterlopers, Die Boekklub, Highrollers, Ballade vir ’n Enkeling en Vir die Voëls.

Voordat Quentin regie begin doen het, het hy as assistent-regisseur op Donkerland, Getroud met Rugby 4, Drukkersbloed, Thomas@, Hartland, Blitzpatrollie en Wolwedans in die Skemer gewerk.

Hy was ook voorheen die eienaar en vervaardiger van Firestorm Production, ’n digitale bemarkings- en produksiemaatskappy in Kaapstad. Wanneer Quentin nie as regisseur of akteur besig is nie, is hy graag fotograaf.

“Vir Die Voëls was die eerste keer wat ek ’n periodestuk geregisseur het. Om die regte plekke te kry, was besonders uitdagend aangesien elke huis in elke straat omring is deur hoë mure en elektriese en palisade heinings. Maar ’n fenominale span het gesorg dat dit ’n wonderlike ervaring was en dat alles van hare tot huise periode spesifiek is. Wanneer jy op stel aangekom het, was jy oombliklik na ’n ander wêreld weggevoer. Musiek neem mens ook terug in tyd en het dus ’n integrale rol in die film gespeel. Alhoewel dit moeilik is om ’n gunstelingtoneel uit te sonder staan die tonele tussen Irma (Simoné Nortmann) en Sampie (Francois Jacobs) beslis uit, want daar was altyd ’n baie mooi samekoms van drama, romanse en komedie in hulle oomblikke saam.”

Quentin Krog het nie eens twee keer gedink toe hy genader is om as regisseur betrokke te raak by die film nie. Die stem in Irma se essay, Slim Vang Sy Baas, het tot hom gespreek.

Quentin het geweldige lof vir die span wat saam met hom gewerk het op Vir die Voëls en het baie agting vir die werk wat die departementshoofde uitgerig het.