Simoné Nortmann
Irma Humpel
Simoné Nortmann
Simoné Nortmann is ’n jong, Suid-Afrikaanse aktrise wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Nadia Croucamp in die bekende, plaaslike seep, 7de Laan.
Sy het in 2008 aan Hoërskool Centurion gematrikuleer waarna sy haar studies begin het aan die Universiteit van Stellenbosch en in 2012 gegradueer het met ’n BDram graad in Teaterstudies onder leiding van die gesoute teaterregisseur, Marthinus Basson.
Sy het tydens haar studies aan verskeie produksies deelgeneem, onder andere: Die Fluitspeler van Hamelin, The Sound of Music en AWBW tv (as medeskrywer en regisseur). Simoné het ook op die studenteraad in 2011 en 2012 gedien waar sy hoof van die Leierskapsontwikkelingsportefeulje en die HOPE-projek was.
Haar liefde vir haar kuns en onblusbare nuuskierigheid het haar in September 2015 Hollywood toe geneem. Gedurende haar tyd in Los Angeles, het sy intense opleiding van Diane Venora, Oscar-genomineerde en bekende op Broadway, ontvang.
Simoné het in 2013 na Johannesburg verhuis toe sy haar eerste groot rol in 7de Laan losgeslaan het en in 2014 het sy die toekenning vir Beste Nuweling by die Royalty Soapie Awards ontvang vir hierdie rol wat sy tot en met 2015 vertolk het.
Sy het al in verskeie televisieprogramme, twee musiekvideo’s en die bekroonde kortfilm, Vuil Wasgoed (kykNET Silwerskermfees 2014) verskyn. Sy is ook te sien as Jony in die kykNET-‘mokkiementêr’-komedie, Hotel wat tot einde September 2016 op die betaalkanaal wys.
Simoné vertolk die hoofrol in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir Die Voëls, wat op 25 November 2016 uitgereik word.
Veelsydig, toegewyd en met ’n betowerende passie vir stories vertel, streef Simoné daarna om ander te motiveer deur die platform wat haar loopbaan haar in die vermaaklikheidsbedryf gebied het.

Karakter – Irma Humpel
Irma droom daarvan (anders as haar vroulike tydgenote) om ’n lewe vir haarself te skep: onafhanklik, vry, en as ’n man se gelyke, maar in die laat sewentigs is dit nie so maklik nie.
Haar moeilike kinderjare onder die dak van haar alkoholis-pa laat ’n blywende effek op haar. Gevolglik het sy ’n onwrikbare wil, is dikwels hardkoppig en nie op haar bek geval nie. Hoewel sy baie lewenswys en volwasse is, is sy onskuldig wanneer dit by die liefde kom.
Weens die stram verhouding wat Irma met haar pa het en haar ma se onverklaarbare lojaliteit teenoor hom is, Irma skepties oor die huwelik en gekant teen die idee om ’n man in haar lewe toe te laat.