Toorbos
Toorbos verken die ontworteling van ’n jong bosmeisie tydens die tydperk van die finale bosbewoners in die Suid-Afrikaanse Knysna-bosse van die 1930’s. Die film vertel die verhaal van Karoliena Kapp, ’n sterk vrou se intieme verbintenis met die boomhart van die bos, en hoe dit ’n struikelblok word in haar ondervinding van die man waarvoor sy lief is.
Wen saam met Toorbos!
Los jou epos adres en staan n kans om ’n Toorbos Geskenk Pakkie te wen!
Rolverdeling
Elani Dekker as
Karoliena Kapp
In 2015, het sy haar eerste hoofrol in die speelfilm, “Jou Romeo” losgeslaan. Sy vertolk die rol van Yvette Verwey in hierdie romantiese komedie. Sy is ook een van die hoofkarakters, Pizzaface, in “Vaselinetjie”, ’n film gebaseer op die bekroonde roman met dieselfde titel deur Anoeschka von Meck. Elani het ’n beurs van The New York Film Academy (NYFA) ontvang en het in 2015 die Acting on Film-kursus aan NYFA voltooi waar sy saam met kunstenaars van regoor die wêreld gewerk het. Sy was ’n aanwins as assistant-produksiebestuurder in 2015 op die stel van die film, “Sink”, met Brett Michael Innes as regisseur.
In 2018 het sy een van die hoofrolle vertolk as Lisa in die romantiese film, “Liewe Lisa”. Sy het ook haar debuut gemaak in die 2018-seisoen van “Binnelanders” as Monique, Dr Annelize Roux se suster. In Junie 2018, het Elani saam met regisseur René van Rooyen aan die film, “Toorbos” gewerk, gebaseer op die verwerking van bekende skrywer Dalene Matthee se blitsverkoper 2003-roman met dieselfde naam.
Karoliena Kapp
Karoliena Kapp is die enigste kind van ’n onsimpatieke ma wat al drie mans gehad het. Haar pa is doodgeslaan deur weerlig toe sy nog jonk was wat daartoe gelei het dat sy die bos as haar oeroue voog aangeneem het. Karoliena is a pragtige, hardkoppige en vrygeestige bosmeisie wat n sterk konneksie het met die bonatuurlike hart van die bos. Sy is ook van die min meisies wat opvoeding ontvang het en dit is hierdie vryheid van gees en intelligensie waarop Johannes Stander verlief raak.
Stiaan Smith as
Johannes Stander
Stiaan Smith is a Suid-Afrikaanse skrywer en akteur vir film en televisie. Hy het in verskeie produkises opgetree, insluitend “Vir Altyd”, “Sy Klink Soos Lente”, “Wonderlus” en “Vuil Wasgoed”. Hy het die toekenning vir beste akteur gewen by die Shnit fees in Kaapstad asook by die Hyperdrive Festival in Londen vir sy werk aan die onafhanklile kortfilm “Preparation”. As ’n skrywer, het Stiaan se loopbaan begin deur die skryf van toneelstukke wat by verskeie feeste landwyd opgevoer is. Hy het verskeie toekennings losgeslaan, insluitend beste debuutproduksie by die Innibos Kunstefees. In 2016, het Stiaan sy debuutrolprent “Sy Klink Soos Lente” geskryf en vervaardig.
Hy het die toekenning vir beste oorspronklike draaiboek by die Silwerskermfees in Kaapstad gewen vir sy werk aan die kortfilm “Beurtkrag”. Later het Stiaan “Beurtkrag” ook ontwikkel in ’n verhoogstuk wat suksesvol deur die land opgevoer is. Stiaan het daarna die televisie-mokumentêr “Hotel” saam met ander geskep. Sy mees onlangse werk sluit in hoofrolle in verskeie kykNET-produksies, soos “Toorbos”, “Bottervisse in die Jêm”, en “Meisies Wat Fluit”. Stiaan het verdere skryfondervinding opgedoen as ’n stafskrywer op televisiedramas en ontwikkel tans sy volgende draaiboek.
Johannes Stander
Johannes het as die kind van ’n houtkapper grootgeword en het homself bevry uit die wurggreep van armoede in die bos. Nou ’n suksesvolle besigheidsman in Knysna se dorp, bestuur hy ’n winkel en streef om sy eie nalatanskap en status daar te vestig. Hy het uitgestyg bo sy arm, wit agtergrond en soos hy verlief raak op Karoliena, wil hy haar transformeer in ’n delikate dorpsdame en haar inspireer om ’n beter toekoms vir haarself te bou.
Ira Blanckenberg as
Meliena Kapp
Ira Blanckenberg behaal haar B.dram.hons graad aan die Universiteit Stellenbosch. As professionele teater-aktrise speel sy onder andere in “Othello”, “Kat-en-muis-speletjies”, “Oom Anton By Die See”, “Pa” en “Drif”. Tydens 2018 se Woordfees debuteer Ira met haar eenvrouvertoning, “Haal Asem”, waarvan sy ook die teks self geskryf het, met regie deur Marí Borstlap. Die produksie speel sedertien vir volhuise by Vrystaat kunstefees, KKNK asook Innibosfees. In 2017/2018 toer Ira en Waldemar Schultz met “Die Heel Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte” onder leiding van Juanita Swanepoel en ontvang hiervoor ’n Woordtrofee-nominasie. In 2016 tree sy op as hulpregisseur van “Kristalvlakte” deur Amy Jephta, met talle van die spelers genomineer vir fees- en Fiëstatoekennings. Onlangs regisseur sy Mike van Graan se “Two to Tango” by die Grahamstadfees asook Hilton Arts Festival. As televisie-aktrise word sy onder meer onthou vir haar vertolkings in “Egoli”, “Binnelanders” en “7de Laan”. Sy het verskyn in “Die Byl“, “Boland Moorde 2” en in 2018 vertolk sy die rol van Bernice in “Suidooster”, en verskyn in ”Fynskrif”. Sy was ook te sien in die kortflims “Vloeksteen”, “Toevlug” en “Sussie“. Sy vertolk die rol van die voog in Jozua Malherbe se “Griekwastad”. Sy staan gedurende 2018 en 2019 heelwat in as dialoog afrigter by die sepie “Sbeoordelaar”. Ira is reeds ’n hele paar jaar betrokke by die ATKV-Tienertoneelkompetisie as nasionale beoordelaar en is ook reeds 10 jaar aan die stuur van haar eie dramaskool, Stageright Drama, waar sy leerders van gr.1-12 afrig in Toneelspel en Dramategnieke, asook vir eisteddfoddeelnames, kompetisies en ritse produksies.
Meliena Kapp
Meliena is Karoliena se ma, ’n onsimpatieke, verslane vrou wat ná haar man se dood desperaat is om kos op die tafel te sit en om haar dogter op te voed. Eens ’n trotse vrou, haar man het ’n goeie houtkappershuis vir hulle agtergelaat, slaap sy nou saam met verskillende mans om te oorleef. Godsdienstig en konserwatief, is haar grootste droom om te sien dat Karoliena uitstyg bo die armoede wat hulle omring.
Clare Marshall as
Miss Macmaster
Clare is ’n bekwame toneel, film en televisie-aktrise. Sy het die hoofrol vertolk in Suid-Afrika se eerste TV-drama, “Ardell”. Haar filmwerk sluit in “Zulu Dawn” met Peter O’ Toole, sir John Mills en Burt Lancaster. She het ook die rol van Mrs Malaga vertolk in Richard E. Grant se “Wah Wah” en het opgetree in Clive Morris se misdaaddrama in 2004, “A Case of Murder”. Ander filmtitels sluit in “Cape of Good Hope”, “Hostage”, “Murphy’s Law”, “Purgatory”, “Burn Down” en “The Keeper”.
Clare se uitgebreide TV-opvoerings sluit in “Miss Candida”, “Town Guard”, “People Like Us”, “Red Tape”, “Sinners” (Koningin Victoria), “Egoli”, “Tropical Heat”, “Generations”, “Madam and Eve”, “Isidingo” en “The Triangle” waarin sy die rol vertolk van Alice Sheedy. Sy het ook ’n rol vertolk in die M-Net dokkiedrama “Feast of the Uninvited” onder regie van Katinka Heyns. Sy was ’n stigterslid van Radio Today en was die eerste vrouestem op die stasie sedert sy bestaan in 1996. Clare is op Sondagoggende in die 09:30 tydgleuf.
Clare is opgevoed in Indieë, Engeland en Rhodesië en het drama in Brittanje studeer. Sy het verskeie toekennings gewen vir haar teaterwerk.
Miss Macmaster
Miss Macmaster is ’n beskaafde dame wat ’n dorpshuis het waar sy ’n stoepkamer verhuur en afrondingsskoollesse gee. Sy is ’n gawe, tog streng Engelse dame, maniere en etiket beteken alles vir haar. Sy het geen begrip vir die armblankes nie, maar is goedhartig genoeg om die arm Afrikaners te “rehabiliteer” wat potensiaal toon om in saggeaarde dorpsmense te transfromeer. Sy glo dit is haar plig om Karoliena te help om haarself af te sny van die bos en om die brug na die beskawing oor te steek.
Ivan Abrahams as
Bothatjie
Ivan Abrahams is ’n Suid-Afrikaanse akteur wat bekend is vir sy werk in teater, hoewel hy rolle vertolk het in verskeie televisiereekse, insluitend ’n sterrol in die kykNET dramareeks, “Orion”, in 2006.
Ivan het ’n BA-graad by die Universiteit van Kaapstad voltooi. Hy het ook ’n British Theatre Association kursus in toneelspel en regie voltooi.
Sy televisierolle sluit in “Stray Bullet” op M-Net, “The Game”, “Generations”, “Heartlines” en “Forced Love”. Sy teaterwerk sluit in “A Midsummer Night’s Dream”, “The Tempest”, “King Lear”, “Macbeth”, “Antony and Cleopatra” en “Kanna hy kô hystoe”.
Abrahams het ’n FNB Vita-toekenning gewen in 2000 as beste akteur in “Suip”.
Bothatjie
Bothatjie het ’n diepe verbintenis met die natuur en die bos. Eens ’n houtkapper, het hy dit sy lewensdoel gemaak om te probeer om inheemse bome in die bos te plant. Vir die afgelope 15 jaar groei hy ongeveer 20 verskillende inheemse spesies in ’n klein kampie buite sy huis.
Hy is Karoliena se spirituele mentor and leer haar die waardes van empatie, geduld en die mag wat daar is in hulle verbintenis aan die natuur.
Gretschen Ramsden as
Hestertjie
Gretchen Ramsden is gebore in Vredenburg en het daar grootgeword. Sy het Panorama Laerskool bygewoon asook Hoërskool Weston. Sy het gegradueer met n BA-graad in Drama en Teateropvoering by die Universiteit van Kaapstad (UK) in 2017.
Sy het haar professionale loopbaan in haar finale jaar by die UK begin waar sy die rol vertol het van Evie in “Die dans van die watermeid”, geskryf deur Amy Lekas met regie deur Jason Jacobs. Die stuk is opgevoer by die Baxterteater, Woordfees 2018 asook KKNK in 2018.
Sy het die hoofrol vertolk in die verwerking van Jolyn Phillip se “Tjieng Tjang Tjerries” by die Woordfees in 2018 en is te sien as Joanie in die stuk met regie deur Jason Jacobs.
Sy het haar telenovelareeksdebuut gemaak in “Arendsvlei” en het die rol van Nicolene Arendse vertolk.
Hestertjie
Hestertjie is Karoliena se beste vriendin en is van die armstes van die houtkappers, die Veldmanspaaiers. Haar ma het sewe kinders gehad en ná Hestertjie is hulle “boetie” en “sussie” genoem. Haar familie is kras, vuil en ongeskik. Sy begeer ’n beter lewe en slaap rond met ouer houtkappermans en raak swanger.
Opsomming
Toorbos speel af in die 1930’s in die tyd van die laaste bosbewoners van die ongelooflike Knysna-bos. Dit vertel die verhaal van Karoliena, ’n jong boskind wat in armoede gebore word en in soortgelyke omstandighede grootword. Sy is die enigste dogter van ’n onsimpatieke en haatdraende ma. Haar liefdevolle pa sterf wanneer Karoliena sewe jaar oud is, waarná sy die bos as haar enigste voog “aanneem”.
Sy word ’n slim en pragtige jong vrou wat gou die aandag trek van Johannes, ’n suksesvolle besigheidsman van die dorp wat haar belowe om haar weg te neem van haar armoedige bestaan. Betower deur hom en die vooruitsigte van sy lewe, stem sy in om na Knysna toe te gaan waar sy opgelei word om ’n gerespekteerde dame te word…
Maar die dorp en die bos is in skrille kontras met mekaar. Die bos is magies, mities en spiritueel. Die dorp draai rondom ’n selfsugtige soeke na geld. Wanneer Karoliena besef dat sy haar kosbare vryheid vir ’n hok verruil het, is dit te laat – en sy is vreesbevange.
Kort ná haar troue loop sy weg terug na die bos toe. Johannes spoor haar daar op en onthul dat die bos se dae getel is, aangesien die regering binnekort beplan om van al die bosinwoners ontslae te raak.
Ons storie volg Karoliena terwyl sy vasgevang is tussen haar liefde vir die bos en die man waarmee sy getroud is, terwyl sy probeer om die hindernisse op haar reis te oorkom om te kan besluit waar haar plek in die wêreld werklik is.
Filmspan
René van Rooyen
REGISSEUR
René van Rooyen is ‘n Suid-Afrikaanse regisseur en draaiboekskrywer, wie haar graad in BA Media in regie en draaiboekontwikkeling aan AFDA Kaapstad verwerf het. In 2012 het sy vir kykNET se Silwerskermfees kortfilm program ingeskryf en die prys as Beste Regisseur en Beste Kortfilm gewen. In daardie jaar het sy haar produksiemaatskappy Red Letter Day Pictures, saam met haar man Corne van Rooyen gevestig, wat medevervaardigers is van die films “Hollwyood in my Huis” en “Vaselinetjie” – die 5de en 2de hoogste lokettreffers van hulle jaar. Gedurende hierdie tyd het sy ook deelgeneem aan die NFVF vrouefilmmaker kortfilm program en die 25-minuut distopiese prent “Pathology” gemaak, wat by Durban IFF premiere het, asook die regie behartig van die plaaslike film “Mooirivier”. Sy het van daar drie dramareekse se regie behartig: Reeksregisseur van “Alles Malan”, episodiese regisseur van die politieke rilller “Fluiters” en reeks regisseur van “Getroud met Rugby.” In 2019 was sy die medeskrywer van die loodsepisode van “Trackers” – M-Net se eerste “high-end” drama met CINEMAX en ZDF. Haar film as reggiseur en skrywer “Toorbos”, was gekies as een van 5 uit 60 Afrika-films om aan die CTIFM&F ‘Works in Progress’ program deel te neem, waar sy die naproduksietoekenning ontvang het. Sy is in ontwikkeling vir haar speelfilm “Vrees” en werk aan twee televisiereekse vir M-Net en kykNET.
André Scholtz
VERVAARDIGER
André het al meer as 32 vollengte Suid-Afrikaanse films sedert 1976 vervaardig asook sewe televisiedramas en komediereekse vir die twee nasionale televisienetwerke in Suid-Afrika.
Vyf van hierdie films is ook internasionaal uitgereik. Sy film “Meerkat Maantuig” is hoogs aangeskryf by verskeie filmfeeste en in 2020
word sy jongste film, “Toorbos”, vrygestel.
Dries Scholtz
VERVAARDIGER
In 2005, het Dries in die industrie begin as ’n produksie-assistent op die televisiereeks “Dryfsand”. Hy het vinnig naam vir homself gemaak en het as eenheidsbestuurder op verskeie televisiereekse gewerk. Hierdie sluit in “Amalia”, “Andries Plak” en “Feast of the Uninvited” met vername regisseurs soos Koos Roets en Katinka Heyns.
Hy het sy pad in die industrie oopgewerk op produksies soos “Mr Bones 2”, “Bakgat! 2” en “District 9”. Nadat hy suksesvol verskeie projekte as eenheidsbestuurder voltooi het, het Dries besluit om meer betrokke te raak op ’n skeppende vlak.
Met die hulp van Danie Bester het hy The Film Factory se sustermaatskappy, FiX Post Productions begin. Daarna was hy assistent vervaardiger op verskeie projekte van The Film Factory, soos “Wolwedans in die Skemer”, “Hoofmeisie” en “Bakgat! 2”. Met Dries se ondervinding in vervaardiging en na-vervaardiging, het hy besluit om “Ek joke net 1” met sy vennoot Danie Bester te skep en daarná “Ek joke net 2”. Hy het die regie van “Agent 2000” behartig.
As skrywer en regisseur het Dries baie insig in die plaaslike filmbedryf, veral wanneer dit kom by die verhouding tussen vervaardiging en na-vervaardiging.
Hy was die lynvervaardiger en na-vervaardigingsbestuurer van die romantiese avontuurfilm “Pad na jou Hart”, asook die drama, “Ballade vir ’n Enkeling”.
Saam met sy besigheidsvennoot Danie Bester, is Dries besig om ’n groot impak in die plaaslike filmbedryf te maak.
Brendan Barnes
KINEMATOGRAAF
Brendan Barnes (SASC) is ’n filmmaker wat in Johannesburg gebaseer is. Hy het in 2010 sy BA in Speelfilmmedium (honneurs) voltooi en het vinnig naam vir homself gemaak as ’n talentvolle kinematograaf.
Brendan het ’n indrukwekkende showreel van narratiewe werk, met nege speelfilms, drie seisoene van dramareekse en verskeie bekroonde kortfilms.
Sy portefeulje sluit ook ’n uitstekende verskeidenheid advertensiewerk in asook musiekvidoe’s. besoek gerus www.brendanbarnes.com om na sy werk te kyk.
Hy is onlang verkies tot die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kinematograwe en sluit so aan by ander ervare professionele filmmakers.
Waldemar Coetsee
PRODUKSIEONTWERPER
Waldemar Coetsee het sy professionele loopbaan in die filmindustrie 11 jaar gelede begin terwyl hy aan AFDA in Johannesburg studeer het deur op elke studentefilm waarop hy moontlik kon, bystaanwerk te doen. Met sy pa se betroubare Land Rover as geselskap, en baie slapelose nagte, het hy soveel ondervinding as moontlik in die industrie opgedoen. Na hy sy studies voltooi het, het Waldemar as stelversierder op verskeie internasionale en nasionale projekte, soos “White Light”, “Tornado” en ook die suksesvolle tienerkomedie “Bakgat!”, wat deur The Film Factory vervaardig is, gevorder.
Na hy sy eerste deurbraak as HOD op die stel van die M-Net reeks “Innocent Times” gekry het, het Waldemar nog nooit teruggekyk nie. Sedertdien, was hy die produksieontwerper op 21 films en vier televisiereekse. Hy het ook waardevolle ondervinding as kunsregisseur opgdoen in verskeie TV-reekse en films (insluitend “District 9”) en is ook vernuftig as ’n spesiale effekte kunstenaar.
Waldemar pas maklik by enige situasie aan, byvoorbeeld as kunsregisseur in Ethiopië op die multinasionale produksie, “Mandela’s Gun”. Hy is vir drie Safta-toekennings genomineer, naamlik vir sy werk op “Roepman”, “Room 9” en “Faan se Trein”. Hy ontvang hierdie toekenning vir sy werk aan laasgenoemde. Afgesien van sy passie vir periodestukke, kombineer Waldemar estetiese elemente met sy praktiese kennis en ondervinding. Wanneer hy ’n nuwe projek aanpak, is sy verantwoordelikheid om stories visueel oor te dra, om die regisseur se belange te verteenwoordig en om die begroting in ag te neem, van kardinale belang.
Binne hierdie raamwerk en agtergrond, lewer Waldemar ’n onmiskenbare bydrae tot projekte – en dit is opvallend in sy passie asook die eindproduk van elke suksesvolle projek waaraan hy al gewerk het.
Sulet Meintjies
KOSTUUMS
Terwyl Sulet besig was met haar BA-graad in opvoeringskunstegnologie het sy begin werk aan teaterproduksies in 2003 by die Staatsteater, soos “La Traviata” en “La Boheme”. Sy het haar prakties in België voltooi en ná haar terugkeer het sy aanhou werk in teater as ’n kostuumassistent.
Deur haar teaterwerk het sy konneksies in die film- en televisie-industrie gemaak en het gou begin werk aan internasionale produksies, soos “White Light”, “Invictus”, “Strike Back”, “Long Walk to Freedom”, “Blended” en “Avengers”.
Ná nog teaterwerk het sy ook begin ontwerp vir die plaaslike film- en televisie-industrie. Sy het haar eerste Safta-nominasie gekry vir die televisiereeks “Bloedbroers”. Sy ontwerp nie nie net vir die plaaslike industrie nie, maar is ook betrokke by internasionale koproduksies.
Sy is hierdie jaar genomineer vir ’n Safta vir haar werk aan “An Act of Defiance” en is ook genomineer vir ’n Silwerskerm-toekenning vir “The Story of Racheltjie de Beer”.
Sy het al vir meer as 30 produksies ontwerp, insluitend film en televisie en het aan nagenoeg 70 produksies gewerk. In hierdie tyd het sy ook ongeveer 40 produksies stileer.
Ronelle Loots
REDIGEERDER
Ronelle Loots is ’n veelbekroonde redigeerder, wenner van verskeie Safta-speelfilm- en dokumentêre toekennings vir redigering, insluitend die onlangse dokumentêr, “The Boers at the End of the World”.
Sy voltooi tans ’n dokumentêr oor die oprigting van die Zeitz MOCAA-perseel by Kaapstad se historiese Waterfront graansilos.
Haar uitgebreide filmografie sluit verskeie produksies in, soos “Four Corners”, “Master Harold and the Boys”, “U-Carmen eKhayelitsha”, “Forgiveness” en “Paljas”.
Aan die einde van 2017 het Ronelle die redigering van Wanuri Kahiu se Keniaanse film, “Rafiki”, voltooi. Hoewel dit verban is in Kenia, het dit die eerste film geword wat uitgenooi is na die Cannes Filmfees as deel van die amptelike 2018 Un Certain Regard afdeling.
Dit is gekies as die afsluitingsfilm vir die 2018 Durban Internasionale Filmfees.
TheWorkRoom Audio Post
KLANKONTWERPER
TheWorkRoom is ’n veelvuldig bekroonde naproduksie oudio-fasiliteit in die middestad van Kaapstad in Suid-Afrika. Hulle is ’n passievolle en toegewyde span klankingenieurs wat saamwerk om bekroonde klankbane vir speelfilms, televisie asook rolprent- en radio-advertensies te maak. Hulle is ’n kreatiewe groep met ’n indrukwekkende aanvoeling vir klankontwerp, musiekkomposisie, stemrolverdeling en regie. Hulle is ook tegnies vaardig in klankeffekte-opname, klankontwerp, meng in 5.1, 7.1 of Atmos™ en ADR, Loop Group en Foley-opname.
TheWorkRoom spog met ’n indrukwekkende lys invloedryke film-, televisie- en radiokrediete, insluitende onder meer 4 Emmy-benoemings met 2 Emmy-toekennings vir “Oustanding Sound in a Series” (2014 & 2016), 2 Cinema Audio Society (CAS)-nominasies vir “Outstanding Sound Mixing” (2015 & 2018), televisie-advertensies wat Grand Prix-toekennings gewen het (2009, 2010, 2012, 2013) en verskeie radio-advertensies wat Cannes Lions gewen het (2011, 2013, 2014, 2015, 2016, 2017).
Andries Smit
OORSPRONKLIKE MUSIEK
Andries Smit, in Kaapstad gebore en getoë, het sy musicale reis op ’n jong ouderdom begin en het geleer om die klavier, kitaar en ook dromme te speel. Aangesien hy betokke was by verskeie musikale projekte regdeur sy lewe, het hy sy passie ontdek vir verskeie orkestrale verwerkings.
Hy het in 2010 gegradueer by City Varsity in Produksie en Verwerking. Nadat hy by een van Kaapstad se top ateljees gewerk het, het hy ’n tuiste gevind by Pressure Cooker Studios.
Hier hou hy aan om sy kuns as komponis te verfyn onder leiding van die bestes in die industrie. Sedert hy by Pressure Cooker Studios aangesluit het, het Andries gewerk aan verskeie advertensies, dokumentêre, televisiereekse en films.
Ander projek-hoogtepunte sluit in “Toorbos”, “Susters”, “Vagrant Queen”, “Supa Strikas” en die nuwe animasiefilm van Triggerfish “Seal Team”.
Erkennings
AKTEURS
Elani Dekker – Karoliena Kapp
Stiaan Smith – Johannes Stander
Ira Blanckenberg – Meliena Kapp
Clare Marshall – Miss Macmaster
Ivan Abrahams – Bothatjie
Gretschen Ramsden – Hestertjie
FILMSPAN
Regisseur: René van Rooyen
Vervaardigers: André Scholtz en Dries Scholtz
Uitvoerende Vervaardigers: Jan du Plessis, Karen Meiring, Kaye Ann Williams,
Wikus du Toit en Anneke Villet
Mede-uitvoerende Vervaardigers: Mahomed Cassim en Asgar Mahomed
Teks: René van Rooyen
Kinematograaf: Brendan Barnes
Produksiehuis: The Film Factory
Redigeerders: Ronelle Loots, Dries Scholtz
Produksieontwerper: Waldemar Coetsee
Kostuumontwerp: Sulet Meintjies
Oorspronklike Musiek: Andries Smit
Klankontwerp: The Workroom Audio Post
Klankmenger: Byron Meyer
Stilfotograaf: Danah Spies
Produksiehuis: The Film Factory
Finansiële ondersteuning van
NFVF (National Film and Video Foundation, South Africa);
Department of Trade and Industry South Africa, M-Net
Kontakbesonderhede
Film
Andre Scholtz: krisan@icon.co.za
Dries Scholtz: dries@thefilmfactory.co.za
072 221 6628
Kantoor
Tel: 011 678 1111
Publisiteit: Rachelle Crous Publicity
Rachelle Crous: 082 084 6724 / rachelle@rcpublicity.com
Sosiale media
Facebook: @toorbosfilm
Instagram: @toorbosfilm
Publisiteitsfoto’s
Alle foto’s op stel is geneem deur Danah Spies.
Publisiteitsfoto’s en ontwerp deur Fathom Media www.keyart.co.za
Mediapak ontwerp: Ivann Pieterse van Fathom Media