Neutedop

Wim en Kevin werk by ’n wassery. Dinge is vervelig deur die dag, totdat die son sak en hulle partytjie hou in hulle kliënte se klere. Tydens so ‘n geleentheid ontdek hulle ’n afgesnyde vinger in ’n aandpak se baadjie. Die onderduimse eienaar van die vinger, sy seuns en ’n ongenaakbare verraaier is op Wim en Kevin se spoor en nie besorg oor hul welsyn nie.

Opsomming

Wim en Kevin droom al vir jare van hulle eie koffiewinkel, maar terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in ’n klerewassery. Die probleem is dat ‘tydelik’ sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hulle bestaan steeds die leen van hulle kliënte se klere is om snags patytjies te ‘crash‘.

Hierdie stelsel werk goed. Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, tot ‘n onderduimse juweelhandelaar verraai word, sy vinger afgesny word en dié vinger in ’n baadjiesak by die wassery opeindig. Teen hulle wil word Wim en Kevin in ’n gevaarlike onderwêreld ingesleep. Kort op hulle hakke is twee broers met ’n rash, ’n blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier. En iewers staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.

Storie agter die storie

Bouwer Bosch en Bennie Fourie het mekaar op die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom ontmoet en het vir die eerste keer saam rolle vertolk in ‘Mooirivier’, ’n film wat op kampus verfilm is. Op die stel het hulle ’n hegte vriendskap gevorm en daarmee saam die idee vir ‘Vuil Wasgoed’. Hulle skryf die film in vir kykNET se 2014 Silwerskermfees en daardie jaar wen die produksie ‘Beste Kort Film’ by die fees asook geld om die film in ’n vollengte film te ontwikkel.

Aangesien Bouwer saam met Danie Bester gewerk het aan ‘Sy Klink Soos Lente’, is The Film Factory ’n eenvoudige keuse vir die vervaardiging van die vollengte weergawe van ‘Vuil Wasgoed’. The Film Factory spog met ’n lang lys films, soos ‘Bakgat!’, ‘Vir Altyd’, ‘Hoofmeisie’, ‘Pad na jou Hart’, ‘Ballade vir ’n Enkeling’, ‘Roepman’, ‘Vir die Voëls’ en ‘Jou Romeo’, om’n paar te noem. ‘Vuil Wasgoed’ word deur The Film Factory, Bouwer Bosch Films en BennieBoekFilms vervaardig.

In die vollengte film keer baie van die kort film se gesigte terug, naamlik Bouwer Bosch, Bennie Fourie, Simoné Nortmann, Leandie du Randt, Tim Theron en Stiaan Smith, terwyl Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Louis Minnaar, Hannes Brümmer, Christel van den Bergh en Je-ani Swiegelaar die ensemble voltooi. Daar is veral opgewondenheid oor Nico Panagio en Tim Theron wat hierdie rondte hulle sjarme inruil vir gewere.

Komedie lê na aan Bennie en Bouwer se harte en hulle is oortuig daarvan dat die film ’n vars nuwe toevoeging gaan wees tot die Afrikaanse komediegenre. Die film kom uit die pen van Bennie Fourie, skrywer van die kort film asook skepper en mede-skrywer van die kykNET-komedie, ‘Hotel’. Bouwer is verantwoordelik vir baie kwinkslae in die film en het eendag in ’n Wimpy die uiters gepaste loklyn uitgedink: ‘Dankie dat jy hier was’.

Die film is toevertrou aan Morné du Toit wat sy derde film aanpak as regisseur. Vorige suksesse sluit in ‘Hoofmeisie’, asook ‘Nul is nie niks nie’. Morné slaag daarin om ’n aksiekomedie te skiet wat nog nie sy gelyke gesien het in die land nie. Hy en die kinematograaf, Eduan Kitching, het uit die staanspoor besluit hulle gaan film vier en dit ’n fees vir die oog maak.

’n Eenvoudige droom wat by ‘n klein kort film begin het, is binnekort op die silwerdoek, reg om die land te laat skrik en te laat skater.
#dankiedatjyhierwas