Morné du Toit

Regisseur

Met regie en draaiboekskryf as sy hoofvakke, kwalifiseer Morné met cum laude by die TUT-filmskool in 2007. As derdejaarstudent is sy eerste film vir TV in opdrag deur M-Net vervaardig, getiteld ‘Spaarwiel’.

Sy finale studentefilm ‘Andre Metstrepie’ slaan ’n reeks toekennings by die landswye M-Net Edit-kompetisie in 2007 los. Dié donker komedie word bekroon as Beste Film en ontvang ook lof vir Beste Akteur, Beste Draaiboek en Beste Regisseur. Dit word in 2008 op M-Net uitgesaai.

In 2011 voltooi hy sy eerste vollengte film as regisseur van ‘Hoofmeisie’ wat ’n groot sukses by die loket was. In 2013 het Morné die kort film ‘Prinses’ geskryf en ook die regie daarvan behartig. Sy film ‘Stom’, wat handel oor nageboortedepressie, het talle vermeldings asook nominasies by 2014 se Silwerskermfees ontvang.

As akteur speel hy in die films ‘Straight Outta Benoni’, ‘Footskating 101’, ‘Verraaiers’, ‘Fanie Fourie’s Lobola’, ‘Between Friends’, ‘The Wrong Mans’, ‘Leading Lady’, ‘Knysna’, ‘Sink’ en ‘Die Pro’.

Meer onlangs werk Morné as senior regisseur en kreatiewe kanaalhoof by Birthmark Agentskap. Daar is hy betrokke by promoveldtogte wat met Promax- en Pendoringtoekennings weggestap het.

In 2016 is hy regisseur van die vollengte rolprent ‘Nul is nie niks nie’ en in 2017 behartig hy die regie van die vollengte rolprent ‘Vuil Wasgoed’.