Tim Theron

Tom

Tim het sy studies aan die Noordwes-Universiteit voltooi waar hy betrokke was by vele studente-verhoogproduksies.

Na sy studies het hy die korporatiewe mediawêreld betree, maar nadat hy betrokke geraak het by die improvisasie komediegroep Lagnes, het hy besluit om voltyds in die kunstewêreld te werk.

Lagnes het van krag tot krag gegaan, met optredes by kunstefeeste soos Aardklop, KKNK, Jakaranda Nasionale Kunstefees, die Sitrus-fees, die Woordpoort-fees en die MOL-fees.

In 2011 besluit Tim om op sy solo-loopbaan te fokus en slaan hy ’n rol los in die film, ‘Semi-Soet’, asook die Afrikaanse dramareeks ‘Vloeksteen’ op kykNET.

In dieselfde jaar stig hy, Cobus van den Berg en Jorrie van der Walt die produksiemaatskappy, Kaapland Films. Die eerste projek wat Kaapland Films aanpak, is ‘Klein Karoo’ waarin Tim een van die hoofrolle vertolk. Hy skryf ook die oorspronklike konsep vir die film.

In 2013 is Tim deel van Deon Opperman se drama ‘Donkerland’ en in 2014 speel hy in die kykNET-reekse ‘Sterlopers’ en ‘Die Byl’. Ook in 2014 wen die produksie waarby Tim betrokke was, ‘Vuil Wasgoed’, ‘Beste Kort Film’ by die kykNET Silwerskermfees.

In 2015 stel Kaapland Films die film ‘Mooirivier’ vry waarin Tim die hoofrol van Paul vertolk en skryf hy ook die oorspronklike konsep vir die film.

Hy werk in 2016 saam met Deon Meyer aan Karoo Films se ‘Jagveld’ waarby Kaapland Films betrokke raak en ook die bemarking van die film hanteer.