Danie Bester

Vervaardiger

Danie Bester

Danie Bester

Danie Bester het oor die afgelope tien jaar 25 vollengte rolprente vervaardig en word deur baie mense beskou as ‘n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi.

Hy het B.Com Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook ‘n bekende DJ op die studente-radiostasie, Radio Tuks (TuksFM) was. Hy het die jare 1996 en 1997 in Londen, Skotland en Indië deurgebring.

Danie het in 2002 sy honneursgraad (cum laude) aan AFDA Johannesburg in Rolprent Medium verwerf. Danie word in sy finale jaar aangewys as bester skrywer en regisseur vir sy M-Net New Directions kortfilm, Skitterwit.

Danie was die vervaardiger van Ouma se Slim Kind, Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die buitelandse filmkategorie van 2008 se Oscar-toekennings. In 2011 het hy die Mr Video-toekenning gewen vir sy bydrae tot die plaaslike rolprent bedryf en in 2015 vereer Maroela Media hom met ‘n toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse Rolprentbedryf . Pad na jou Hart wen in 2014 en Ballade vir ’n Enkeling in 2015 die Huisgenoot Tempo toeking vir gewildste rolprent van die jaar. Vaselinetjie wen die prys vir beste rolprent by Die Silwerskerfees 2017.

Aan die begin van 2007 was Danie een van twee vervaardigers wat deur die NFVF gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Rotterdam Lab, ‘n inisiatief van die Rotterdamse Film Fees. In dieselfde jaar is hy ook een van drie plaaslike filmmakers wat Suid-Afrika by die Berlin Talent Campus verteenwoordig het. Die program word tydens die Berlynse Filmfees aangebied. Danie is ook ‘n gegradueerde van die hoogs aangeskrewe Trans Atlantic Partnership – ‘n ko-produksie-inisiatief tussen Europa, Kanada en die VSA.

Bakgat
Vir die Voëls

Danie was betrokke by die vervaardiging en regie van meer as 100 advertensies en musiekvideo’s. Maatskappye en musikante waarvoor hy al gewerk het, sluit in Nike UK, Sony USA, Czar Belgium, Happiness Brussels en SAB, Karen Zoid, EMI, Mandoza, Tumie and the Volume en die jazz- legendes, Sipho Gumede en Pops Mohammed.

Bakgat! behaal in 2008 groot sukses by die loket en lei tot die vervaardiging van Bakgat! 2, Bakgat! 3, Superhelde, Ek Joke Net 1 en 2, Night Drive, Roepman, Hoofmeisie, Wolwedans in die Skemer, Verraaiers, Musiek vir die Agtergrond, Pad na jou Hart, Agent 2000, Hear Me Move en die enorme loket treffer, Vir Altyd.

Danie verskuif stelselmatig sy fokus na internasionale ko-produksies, fasilitering en die ontwikkeling van plaaslike produksies wat internasionaal vrygestel kan word. Vir die Voëls, Jou Romeo en Sy Klink Soos Lente word in 2016 by die loket vrygestel en Vaselinetjie en Vuil Wasgoed in 2017.