fbpx

Dries Scholtz

Vervaardiger

Dries Scholtz

Dries Scholtz
In 2005, het Dries betrokke geraak in die filmindustrie as produksie-assistent op die televisiereeks Dryfsand. Hy het sommer vinnig vir homself naam begin maak en het op verskeie reekse soos Amalia, Andries Plak en Feast of the Uninvited as eenheidsbestuurder gewerk en met bekende regisseurs soos Koos Roets en Katinka Heyns kragte saamgespan.

Hy het ook gou in die filmbedryf begin werk aan rolprente soos Mr Bones 2, Bakgat! 2 en District 9. Nadat hy verskeie suksesvolle projekte voltooi het as eenheidsbestuurder, het Dries besluit dat die geleentheid hom voorgedoen het om meer kreatief betrokke te raak in die filmbedryf – en met die hulp van Danie Bester het hy by The Film Factory se sustermaatskappy, FiX Post Productions, aangeklop.

Hy het daarna as assisstent-redigeerder aan verskeie Film Factory-projekte begin werk, soos Wolwedans in die Skemer, Hoofmeisie en Bakgat! 2. Met Dries se ervaring in produksie sowel as na-produksie, het hy besluit om saam met sy vennoot Danie Bester Ek Joke Net 1 te vervaardig en te skryf en het daarna Ek Joke Net 2 en Agent 2000 se vervaardiging en redigering behartig.

In 2017 vervaardig Dries saam met sy pa en film-legende, André Scholtz, Meerkat Maantuig wat 16 Maart 2018 by die loket vrygestel is. Meerkat Maantuig was gekies om by 14 internasionale filmfeeste te speel en stap ook weg met die toekenning vir beste kinematografie by die 2017 kykNET Silwerskermfees.

Pad Na Jou Hart

As vervaardiger en redigeerder het Dries ’n baie goeie insig in die plaaslike bedryf, veral as dit kom by die verhouding tussen produksie en na-produksie. Hy was ook die lynvervaardiger en na-produksie toesighouer van die romantiese avontuurfilm Pad Na Jou Hart en die speurdrama Ballade vir ’n Enkeling. Saam met sy besigheidsvennoot Danie Bester is Dries besig om ’n groot impak op die plaaslike filmbedryf te maak.