fbpx

Hoe word ek ’n akteur?

  • Dit verg net so baie tyd, toewyding en deursettingsvermoë (in sommige gevalle meer) as om ’n dokter, advokaat of rekenmeester te word. Jy moet regtig seker wees dat dit is wat jy graag wil doen.
  • Ek beveel aan dat indien jy enigsins die finansiële vermoë het dat jy ’n graad in drama by een van die vele universiteite in Suid-Afrika (of die res van die wêreld) voltooi.
  • Jy kan ook ’n diplomakursus by een van die universiteite van tegnologie in Suid-Afrika voltooi.
    – Besoek Universiteite van Tegnologie naby aan jou se webwerwe en doen navorsing oor watter instansie drama as ’n graad- of diploma-kursus aanbied.
  • ’n Baie klein persentasie van vermaaklikheidspersone het nie opleiding by ’n formele instansie ontvang nie.
    i. Vermaaklikheidspersone is dikwels van jongs af betrokke by toneelspel en drama op skoolvlak.
    ii. Hulle skole kompeteer in kompetisies, soos ATKV Tienertoneel.
    iii. Hulle woon konstant kort kursusse en werkwinkels by wat hulle vaardighede verbeter.
    iv. Op skool woon hulle dalk ekstra dramaklasse by.
  • Jy moet ’n agent hê.
  • ’n Buitekans. Produksiehuise doen soms oudisies vir veral kinder-akteurs sonder om agentskappe te nader. Rolverdelingsagente het ’n netwerk van skool- en privaat drama-onderwysers wie hulle kontak om te vra of die skole enige kinder-akteurs het wat ’n oudisie kan aflê vir ’n spesifieke projek. Die kans is baie skraal, maar bestaan wel.
  • Sepies hou soms een of twee keer per jaar oop oudisies op soek na nuwe talent. Jy moet steeds deel van ’n netwerk wees om van hierdie oudisies in kennis gestel te word.

Hoe kry jy ’n agent?

  • Dit is moeilik.
  • Dit is nie onmoontlik nie, andersins sou ons nie werkende vermaaklikheidspersone in die bedryf gehad het nie.
  • Die agente moet jou vaardigheid kan evalueer.
  • Universiteite van Tegnologie hou oudisies vir agente aan die einde van studente se studietermyne.
  • Indien jy belangstel om raakgesien te word, begin dalk jou eie YouTube-kanaal.
  • Toneelstukke (op skool, universiteit, universiteitskoshuise, Afrikaanse kunstefeeste).

’n Lys van agente wat akteurs verteenwoordig en vereistes:

  • Doen jou navorsing oor ’n agentskap voor jy hulle nader.
  • Onthou hulle kry vreeslik baie navrae elke week, waarom is jy anders die res?
  • As jy hulle nader;
    i. Maak seker jy rig jou versoek aan ’n spesifieke persoon of persone en nie net in die algemeen nie.
    ii. Maak seker jou taalgebruik is korrek en nie vol spelfoute nie. Jou inleiding sal die agente se eerste indruk van jou wees. Maak seker dit tel!
    iii. Wees tot die punt, gee genoeg inligting oor jouself, maar nie oorbodige informasie nie.
  • Agentskappe wat ons nader wanneer ons oudisies doen.
    • Contractors
    • Talent ETC
    • Samantha Bernardi (Kaapstad)
    • Artist One (Kaapstad)
    • Leads
    • Thespians
    • Stella Talent (Kaapstad)
    • APM (Kaapstad)
    • Fourth Wall
    • Viclectic
    • Jaffit
    • Fig Jam
    • MLA

Special Tip:

  • Hoe ontmoet ek agente?
  • Meeste agente behoort aan SAGA, The South African Guild of Actors. http://www.saguildofactors.co.za
  • Al hierdie agente woon al die algemene vergaderings en ook gewone vergaderings by deur die jaar. Jy kan hulle daar ontmoet.
  • SAGA hou ook werkwinkels, jy kan van die groter rolspelers in die bedryf by van dié geleenthede ontmoet.
  • Daar is teatergroepe en werkwinkels by van die groot teatersentrums in die land. Vind uit hoe jy betrokke kan raak.

Daar is heelwat werkwinkels en kort kursusse wat jy kan bywoon. By sommige van die werkwinkels kan jy mense in die bedryf ontmoet.

Hoe om deursettingsvermoë te behou as ‘n akteur:
– Deur Melissa Willering

Om ’n akteur of aktrise in Suid-Afrika te wees, verg baie deursettingsvermoë. Dit is nie maklik nie en jy gaan baie teleurstellings deurgaan. Die bedryf in Suid-Afrika is klein, wat beteken daar is nie so baie rolle beskikbaar nie en die kompetisie is groot, wat beteken jy gaan nie elke rol kry waarvoor jy oudisie nie. Dit kan jou met tye laat voel asof jy nie goed genoeg is nie. Dan is dit baie belangrik om in ag te neem dat dit ongelukkig nie altyd daaroor gaan nie. Dit gaan oor meer as wat jy in jou oudisie gedoen het. Dit gaan oor of jy in die spesifieke rol pas, lyk jy soos wat die karakter moet lyk, pas jy by die akteurs wat die ander rolle gekry het, ensovoorts

Indien jy nie die rol gekry het waarop jy jou hart gesit het nie, moet jy kan uithou en aanhou. As dit rêrig jou droomwerk is, gaan jy die teleurstelling moet verwerk en opstaan en net weer aanhou probeer.

As jy nie in ’n sepie speel in Suid-Afrika nie, gaan jy vir selfs maande sonder enige werk kan sit. Dit is nodig om genoeg spaargeld bymekaar te maak (ek sou persoonlik sê vir ten minste ses maande) of ’n werk te hê wat jy deeltyds kan doen, sodat jy jou rekeninge kan betaal, maar steeds vir oudisies kan gaan.

Oudisies kan ’n moeilike en stresvolle proses wees. Maak seker jy is altyd goed voorbereid, ken jou woorde, berei by die huis voor, kyk hoe jy die karakter “anders” kan maak sodat jy vir die “casting director” of regisseur ander opsies kan gee van hoe die karakter vertolk kan word. Maar moenie te “set in your ways” wees nie sodat die regisseur kan sien dat jy regie kan toepas soos wat hy/sy jou lei.

Senuwees kan veroorsaak dat jy nie jou beste in die oudisiekamer gee nie, maar werk daarmee. Kyk of jy die stres op ’n manier by jou karakter of vertolking kan inwerk en moenie dat dit jou baas raak nie.

Om jouself te bemark as ’n akteur is die volgende baie belangrik: Goeie “headshots”, ’n goeie CV (wat jy met die jare sal opbou), en natuurlik talent.

Hierdie bedryf is egter deur-en-deur die moeite werd as jy ’n passie daarvoor het en dit is die regte beroep vir jou as jy alles wil gee wat jy het! As jy nie kan ophou dink aan die gevoel wat jy kry as jy op ’n stel is of op die verhoog nie, behou jou deursettingsvermoë en leef jou droom.