
Ek stap in ’n donker vertrek in, voor my: ’n skerm wat 4 by 8 meter groot is, dit is indrukwekkend. Dit gloei effens silwer, betowerend. ’n Belofte, afwagting. ’n Leeftyd later loop ek uit dieselfde teater uit. Ontsnap die kokon van emosionele onthulling. My hart voel lig, swaar, ek vee trane af, trane van hartseer, trane van lekker-lag.
’n Handjievol jare gelede was daar slegs ’n paar televisiekanale beskikbaar. Ons kon ’n rolprent by die videowinkel gaan huur of ons kon bioskoop toe gaan. Ons vermaaklikheidsopsies was definitief beperk. In vandag se tegnologies gevorderde wêreld is die jongste, oudste en eienaardigste flieks via hoëspoed internet of sateliettelevisie byna onmiddelik beskikbaar. ’n Oorvloed van bekostigbare, kwaliteit-inhoud was nog nooit so maklik verkrygbaar nie.

Rolprentteater-kultuur, fliek-toe-gaan of sommer movie word deur baie mense bevraagteken. Die hoofrede is die kostes verbonde aan só ’n uitstappie. Jy betaal maklik tussen R35 en R75 vir ’n fliekkaartjie, afhangende van die rolprentteater wat jy besoek. Vanselfsprekend neem daardie prys vir 3D-, 4D- en prestige-teaters toe en kan jy tot R150 vir ’n enkele fliekkaartjie opdok. Die hele uitstappie sal ook nie volledig wees sonder ’n boks springmielies en ietsie kouds om die souterigheid mee af te sluk nie. Tel parkering, 3D-brille en brandstof by en jy kry ’n aardige bedrag.
Ek glo tog wel as die kwaliteit van die rolprent die rolprentganger se verwagtinge oortref, sal ’n fliekkaartjie nooit té duur wees nie. Maar terug na …
… die tweede rede op ons lys waarom mense huiwerig is om te gaan fliek, is sommige gehoorlede se gedrag in fliekteaters. Die harde kou van springmielies, selfoonliggies wat aan- en afgaan, selfs selfone wat soms lui en ook die kletsbrigade wat jy teëkom. Natuurlik maak dit die gemak van fliek-by-die-huis dan baie meer aanloklik.

Maar rolprente word nie ontwerp om optimaal op ’n televisieskerm van 40-duim te speel nie. Rolprente word gemaak om op die groot skerm gesien te word. Die hoë kwaliteit en indrukwekkende skerm, gekombineer met die omringende klank, verbeter die algehele ervaring om deel te voel van die storie wat voor jou afspeel.

Dan is daar natuurlik die feit dat jy heel eerste die rolprent sien en dat jy ’n gemeenskaplike ervaring deel. Die aard van hierdie ervaring verg jou onverdeelde aandag om jou na ’n ander wêreld te neem, waar dit heerlik is om al jou sintuie te gebruik en van die werklikheid te ontsnap. Die droomagtige gemoedstoestand waarin jy jouself bevind, het ’n genesingseffek wat sommer ’n mens se bui verbeter.
En dit is natuurlik ’n goeie rede om die huis te verlaat en iets te gaan doen of om iemand spesiaals te bederf.
Daar is ook ’n paar maniere om fliekkostes aansienlik te verminder: As jy ’n Vitality-lid is, kan jy tot 50% van die prys vir ’n fliekkaartjie afskaaf. Dinsdagaande kos alle fliekkaartjies 50% minder by Ster-Kinekor teaters en Woensdae is dit Woza Wednesday by Nu Metro teaters. Edgars Club kaarte en pensionariskaarte bied jou óók aansienlike afslag op die kostes én dan praat ek nie eers van die magdom kompetisies waarvoor jy kan inskryf om fliekkaartjies te wen nie.
As ’n student het ek self ’n paar jaar gelede die waarde van fliek-toe-gaan bevraagteken, en ek het besluit dat om te gaan fliek ’n mors van geld en tyd is. Die geldsake – of die gebrek daaraan – tydens studentwees was nie ’n grap nie – én die feit dat ons flieks onwettig uitgeruil het, het my nie beter laat slaap nie.
Pad na jou Hart het die silwerskerm getref en almal het gegons oor hierdie eg Suid-Afrikaanse, wonderlike fliekervaring. Goeie bemarking, ’n sterk lokprent en die feit dat Donnalee Roberts ’n oud-Tukkie is, het my oortuig om fliek op die grootskerm nog een kans te gee. Ek het my laaste paar rand vir die maand bymekaargeskraap en besluit om dié fliek by Brooklyn Mall se Ster-Kinekor te gaan kyk.
Dit het my hele lewe verander. Ivan Botha en Donnalee Roberts se magnetiese spel het my aandag vir amper twee ure op die skerm vasgenael. Ek het as ’n nuwe mens uitgestap. In die kar oppad huis toe het ek in trane uitgebars. Ek was so ongelooflik trots om Suid-Afrikaans te wees, om Afrikaans te wees. Ek was geïnspireer om my droom te verwerklik en om ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te maak.
Ek werk nou in die rolprentbedryf en besef die negatiewe uitwerking wat roofkyk op ons bedryf het. As ons kwaliteit Suid-Afrikaanse rolprente ondersteun, is daar gevolglik groter begrotings beskibaar om plaaslike produksies te verbeter.
Bederf jouself, gaan op ’n uitstappie en spandeer ’n paar rand op die plaaslike bedryf om te verseker dat ons Trots Suid-Afrikaans kan bly.
Kommentaar