Voor die dae toe kuberklikknoppies ons lewens oorheers het, toe inligting skaars en kosbaar was, mense eers uitgevind het die wêreld rond is dekades nadat Copernicus dood is (sommige glo dit egter nog nie), toe sneeuvlokkies werklik yskristalle beteken het, en toe die enigste oranje mannetjie waarna mense verwys het op die bottelbuitekant van ’n aanmaaksappie voorgekom het, was daar bewegende prentjies om mense se aandag af te lei, maar nie presies soos nou nie.
Mense was stomgeslaan oor die wonderwerk van hierdie flikkerbeelde, oor hoe hulle sintuie vir ’n paar uur bekoor kon word en oor die verhale wat hulle in verwondering gelaat het. (Hierdie verwondering laat mieliepitte steeds uit hulle nate bars van trots.)
Maar hoe sluit hierdie openingsstelling aan by die aanmoediging van ‘gesonde’ resensies van Suid-Afrikaanse rolprente?
Dit is maklik om die verbinding te maak as mens fokus op die woord ‘verwondering’ en die gebrek daaraan wanneer plaaslike resensente dikwels na veral Afrikaanse flieks verwys.
Voor die era van groot geldmaak en munt slaan uit ’n gehoor aangebreek het, voor vir-die-liefde-daarvan ’n fluisterstemmetjie in die kuberruim geword het, het die blote bestaan van die silwerskerm Suid-Afrikaanse gehore verbyster en opgewonde gemaak.
Dit behoort nog steeds.
As somtydse resensent van menslike gedrag, is my grootste kritiek dat die verwondering van dit wat op die skerm geskep word tot ’n groot mate verlore gegaan het vir diegene wat moet ‘oordeel’ of ’n fliek ‘goed’ of ‘sleg’ is.
Mense in ‘magsposisies’ sukkel om balans te handhaaf en as resensent bevind ’n mens jou (in jou gedagtewêreld, granted) in die posisie van keiser, soms as die wraaksugtige Commodus, heerser tydens die ‘Regte Rowwe Tyd in Rome’, wie se lourierblaartjie menigmaal skeef aan sy kop by die Sirkus Maximus gekleef het soos hy reggeskuif het om sy duim te lig of (meestal) te laat duik oor die skare.
Is dit ’n verregaande konsep om resensente met iemand so onverskrokke soos die bloeddorstige Commodus te vergelyk? En die rolprente met die bloederige slagoffers van ’n mensesirkus? En gehore, ’n skare wat gretig wag vir die keiser se besluit?
Net soos Commodus, laat plaaslike resensente dikwels die gewildste loketproduksies in die stof byt (voorspelbaar) en laat hulle die kleiner aanspraakmakers (gewoonlik) leef om nóg ’n dag in die stof en modder en derms (’n raakbeskrywing van die uitdagings van die plaaslike industrie) te baklei.
Hoekom moet oordrewe kritiek deur plaaslike resensente ontmoedig word?
Wêreldwyd ontvang indie (onafhanklike) films lof en word hierdie regisseurs, vervaardigers en akteurs soos helde of heldinne op die hande gedra weens hulle opofferings om as spreekbuise vir plaaslike rolprentbedrywe op te tree. Hierdie vorm van rolprentmaak word nie sommer maklik afgemaak as oordadig of oorbodig of selfs onbelangrik nie.
In kontras, wanneer dit by grootgeldmaaktreffers in ’n land soos byvoorbeeld Amerika kom, waar openingsnaweke gemiddeld by $370 000 000 kan draai spartel indie films om kop bo water te hou nadat die spesiale effekte, ekstra-vinnige vinnige motors, oorverdowerende klankeffekte, verbysterende aksietonele en CrossFitvalsterre gehore laat smag na meer.
In Suid-Afrika, stoei mense om eerste vir Vin Diesel in sy kaalkopglorie te geniet, terwyl Piet Plaaslik sweterig die geveg teen internasionale loketreuse verloor.
Baie mense vra: Hoekom is ons ontploffings nie groter nie? Hoekom kan ons nie 59 luukse motors in die eerste 10 minute (of selfs een okei tjor in die hele rolprent) afskryf nie? Hoekom is daar nie eksotiese liggings met naelbyt-naellak-afvreet-aksietonele en spesiale effekte nie?
Want elke fliek wat in Suid-Afrika gemaak word, is ’n indie-fliek.
Elke liewe fliek wat met bloed en sweet en murg in Suid-Afrika gemaak word, die kort flieks, die lang flieks, die Engelse flieks, die Afrikaanse flieks, die inheemse flieks, die snaakse flieks, die hartseer flieks, die liefdesdramas en die epiese verhaalflieks word merkwaardig aanmekaar getimmer met min infrastruktuur, maar met die hoop dat ’n groot (relatief gesproke) gehoor, hulle stories sal geniet en verstaan. Dat daar begrip is vir meer as dit wat op die skerm gebeur, dat daar agter elke storie mense is wat duimvashou dat ons nogsteeds in vervoering sal wees, dat daardie flikkerbeelde ons altyd sal meesleur.
Hoewel die plaaslike rolprentbedryf nie genoeg fondse het om werklik meer as stories te vertel nie, is die ervaring wat met gehore gedeel word meestal van ’n hoë kwaliteit (of ’n hoog-genoeg-kwaliteit).
Daarom beteken dit dat hierdie ervarings op die skerm amper heiliger is as die wat hoofsaaklik staatmaak op the sound and the fury, die skreeuende wiele, die helde in stywe uitrustings wat teen groot groen reuse in stukkende pers broekies baklei (daar is plek vir hulle ook).
Dit gaan nie, as resensent, en moet nooit gaan, oor die grootste spiere, die magtigste kreet of let wel, die meeste likes en fans nie. Dit moet nie gaan oor agendas of werksgeleenthede of om vlerk te sleep by sekere instansies nie. (Maar as daar dan ’n Commodus in jou skuil, resensent, wees ten minste konsekwent met die verdoeming van al die deelnemende gladiators volgens jou streng standaarde.)
Die gifpen word veels te maklik uitgehaal wanneer plaaslike produksies durf om op die skerm te verskyn en dikwels ontaard die silwerskerm en die omringende arena (lees media) in iets wat as ’n ouderdomspeberkte wildehondjaguittreksel beskryf kan word.
Asseblief, resensente moet versigtiger wees met Suid-Afrikaanse rolprente. Veral met Afrikaanse flieks wat so dikwels verskeur word voor hulle nog behoorlik die skerm tref.
Kommentaar