fbpx

Bekende getroude paartjie neem rolle aan van broer en suster

Thys & Trix

Thys & Trix is ’n skaterlag aksiekomedie met Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch in die hoofrolle.

Die film word deur The Film Factory en Bouwer Bosch Films vervaardig onder leiding van Danie Bester, Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch as vervaardigers. Die regie sal behartig word deur die bekroonde regisseur Quentin Krog van Vir die Voëls en Ballade vir ’n Enkeling faam.

Thys & Trix word landswyd op 13 April 2018 deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.   

Trix besef dit is haar laaste kans om haarself  as ’n bekwame polisiebeampte te bewys. Thys weet dit is sy laaste kans om die moeilike verhouding met sy suster te red, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie, dikwels met onverwagse, verreikende en skreeusnaakse gevolge.

Kragpaar Chandré en haar katelknapie André, gay-kunshandelaars Stephán en Gérhard, hippie-swingers Ben en June en die lieflike jong weduwee Heidi, is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.

Hierdie groepie kleurvolle karakters van Pelican Close in Pinnacle Point is glad nie wat ’n mens sal verwag van luukse landgoed bewoners nie, maar is enige van hulle moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC (‘n kombinasie van Mandrax en Tetrahydrocannabinol), ’n verlammende hallusineringsmiddel?

Thys en Trix is broer en suster en ook ywerige maar onbeholpe polisiemanne. Thys is ’n  bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hulle onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om saam as ’n span te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer té veel in die verleentheid stel.

Speurder Solomons, ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n misdaad-sindikaat in ’n hoogs onwaarskynlike plek: ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Daar is egter een probleem, Solomons gaan sukkel om in te pas in die landgoed en vanweë hulle ‘vanilla-voorkoms’ word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie.