fbpx

THE FILM FACTORY SKITTER BY VANJAAR SE SILWERSKERMFEES

Ons is baie trots om aan te kondig, dat ons by vanjaar se kykNET Silwerskermfees drie films het wat hul wêreld premiere maak.

The Film Factory se Meerkat Maantuig wat volgende jaar op 16 Maart begin draai, sal by die Silwerskermfees vertoon word. Hierdie fantasie-film waarvan Hanneke Schutte die skryf en regie behartig het, gaan kykers op ’n avontuur neem van ’n vriendskap wat almal se harte laat smelt. Schutte se regie, asook die asemrowende Magoebaskloof, komplementeer die uitmuntende spel van die ongelooflike rolverdeling.

Meerkat Maantuig premiere by die Silwerskermfees op 24 Augustus 2017 om 16:00.

The Film Factory, Bouwer Bosch Films en BennieBoekFilms se Vuil Wasgoed wat op 8 Desember 2017 teaters tref, premiere ook by vanjaar se Silwerskermfees.

Die skreeusnaakse Bouwer Bosch gaan gehore laat skater van die lag, terwyl die hartebrekers Tim Theron en Nico Panagio behoorlik die koppe gaan laat draai. Bennie Fourie, bekroonde skrywer van die kykNET-reeks Hotel, se teks en Morné du Toit se regie slaan die spyker op die kop met elke kwinkslag wat gelewer word.

Vuil Wasgoed premiere by die Silwerskermfees op 25 Augustus 2017 om 19:00.

The Film Factory en Red Letter Day Pictures se Vaselinetjie wat op 22 September 2017 landswyd vrygestel word, is een van die vollengte films wat sy debuut maak op die grootskerm by die Silwerskermfees.

Vaselinetjie, wat op die bekroonde roman (met dieselfde naam) van Anoeschka von Meck gebaseer is, gaan gehore betower met onder meer die uitmuntende regie van regisseur Corné van Rooyen (van Hollywood in my Huis en Sy Klink Soos Lente faam). Die talentvolle jong akteurs se spel in hierdie film is inspirerend en ontsagwekkend.

Vaselinetjie premiere by die Silwerskermfees op 26 Augustus 2017 om 16:00.

Vaselinetjie word deur die Silwerskermfees vereër deur aangewys te word as die afsluitingspremiere.

Kyk uit op ons verskeie Facebook blaaie vir meer inligting aangaande die Silwerskermfees.