Vir die Voëls
Regie deur :
Vervaardigers :
Geskryf deur :
Tina Kruger, Sean Robert Daniels & Quentin Krog
Genre :
Romantiese Drama
Uitreik Datum :
25 November 2016
Oorsig
As deel van Huisgenoot se eeufeesviering het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig
Vir die Voëls is gebaseer op die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was sy vasbeslote dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag. Vir die Voëls speel in die laatsewentigs af en is propvol liefde, lag en trane. Die film is gedurende Mei en Junie 2016 in Johannesburg, Krugersdorp, Kragbron, Hartebeespoort en Bela Bela geskiet. Huisgenoot se redakteur Henriëtte Loubser en haar span het dit geniet om te sien hoe ’n fliek aanmekaargesit word – die draaiboekontwikkeling, esonderhede oor kostuums, dekor, kamerawerk, kleure, musiek asook die redigering daarvan.Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig en die rolverdeling sluit in Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Elize Cawood, Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom, Bennie Fourie, Lara Kinnear, Leandry Smith, Liam Bosman, Candice Kruger, Drikus Volschenk en Edrien Erasmus. Die rolprent word op 25 November 2016 uitgereik en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei
Dit is Simoné Nortmann se eerste film en dis vir haar ’n eer om saam met Quentin Krog en sulke ervare akteurs te kon werk.
Opsommings
Neutedop
Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe, bevind haarself voor die kansel met Sampie de Klerk (Francois Jacobs) aan haar sy. Hoe het sy hier beland? Is sy gereed vir hierdie tipe toewyding? Dalk…maar met ’n voorwaarde of twee. Vir die Voëls: in bioskope vanaf 25 November 2016.
Opsomming
Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe, bevind haarself in ’n trourok voor die kansel, maar is nie presies seker hoe sy langs Sampie de Klerk (Francois Jacobs) beland het nie. Dit voel soos gister toe hy haar nog met ’n kluit in die gesig gegooi het. Irma het haarself jare lank oortuig dat die enigste manier om werklik vry te wees, is om onafhanklik te bly, onafhanklik van die verlede, van mans en definitief van die liefde. Die besonderse sjarmante rugbyspeler met ’n hart van goud en sagte hande daag egter al haar oortuigings uit en laat haar effens lam in die knieë voel. Sy het ingestem tot die ring, die rok en die blomme, maar kan sy instem om haar hart vir iemand anders te gee? Dalk… met ’n voorwaarde of twee. Vir die Voëls: in bioskope vanaf 25 November 2016.
Vir Leandry Smith was dit ’n belewenis om in haar eerste film te speel. Sy het baie lief vir haar karakter, Irma Humpel Junior, geword.
Die Storie Agter Die Storie
As deel van Huisgenoot se eeufeesviering het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig.
Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, vertel hoe dié reis begin het: “Toe ons twee jaar gelede begin dink aan maniere om Huisgenoot se 100ste verjaardag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ’n romantiese fliek te maak. Dit was ’n logiese keuse om kykNET Films, dié kenners van Afrikaanse rolprente, te betrek. Daarna is voorgestel ons hou ’n wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur. Die wenverhaal sou as inspirasie vir die draaiboek dien. Irma de Klerk van Newcastle se vertelling van haar en haar man, Sampie, se hobbelrige liefdespad tot by die kansel het gewen.
“Nadat ons hulle leer ken het, het ons agtergekom ’n mens kon kwalik vir twee waardiger wenners gevra het: Hulle is geswore Huisgenoot-lesers en het ons die kreatiewe vryheid gegun om hul verhaal te omskep in ’n storie met genoeg kinkels en draaie om ’n lekker draaiboek daarvan te maak. Hoewel die basiese intrige dus op hul verhaal gegrond is, is daar ook gebeure en karakters wat nuut geskep is om by te dra tot die opwinding.” Vir die Voëls speel in die laat 1970’s af en volgens Henriëtte gaan dit “die nostalgiese hartsnare roer”. Sy sê: “Dis ’n fliek oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dis ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat eksterne omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk. Dit alles is temas waarby baie mense aanklank sal vind.”
Leandry Smith en Candice Kruger speel die jonger weergawes van Irma Humpel en Marieda de Klerk. Albei dogters moes hulle hare vir hierdie rol kleur.
Bela-Bela se landskap was die perfekte plek vir die grensoorlogtonele en dus hoef die span nie buite Suid-Afrika se grense te geskiet het nie.
Roman
As deel van Huisgenoot se eeufeesviering het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig.
Telefoontjie. Iemand fluister iets in iemand anders se oor, en dié fluister dit aan die een langs hóm. En so aan en so aan. Wat jy gehoor het, moet jy aanstuur. En teen die tyd dat die laaste persoon die boodskap hardop sê, is dit bitter selde wat dit aan die begin was.
Huisgenoot, die grootste tydskrif in die land, is ’n volle honderd jaar oud. As deel van hulle eeufeesviering is ’n kompetisie uitgeskryf, en die wenner was Irma de Klerk van Newcastle met die essay “Slim vang sy baas”, waarin sy haar en Sampie se ware liefdesverhaal van destyds vertel.
Voor die kameras kon rol, moes die gebeure in ’n draaiboek van minder as twee uur saamgevat word, wat baie aanpassings geverg het. Die eerste was dat die storie-Irma nie meer een van ses kinders is nie; sy is nou die enigste, om sake meer gefokus te hou en die aantal karakters te verminder. Net so is haar beste vriendin en Sampie se suster nou een en dieselfde mens.
Ek het op grond van Tina Kruger se eerste weergawe van die draaiboek ja gesê vir die projek. Dit sou ’n verskoning wees om te skryf in ’n genre waarvan ek hou, maar wat ek nie te dikwels kan aanpak sonder om lesers van my ander, spannende romans regtig te begin verwar nie.
Ek het ook die geleentheid verwelkom om ’n storie te kan skryf wat in die 1960’s en 1970’s afspeel – nie net ’n ander tyd nie, maar ’n ander wêreld.
Dit sou wel baie navorsing noodsaak, wat ek gewoonlik beperk omdat skrywers sukkel om nie ál hulle opgediepte pêrels uit te stal ten koste van die verhaal se vaart nie… Teen die tyd dat daar begin is met verfilming van die negende weergawe van die draaiboek, was daar nóg veranderinge, soos dat die gebeure vyf jaar vorentoe geskuif is.
Toe kom my veranderinge. Om dit alles as boek te kon laat werk, het ek tonele geskuif, of saamgevoeg, of ingevoeg. En ander gesny. Ek het die eerste helfte van die draaiboekstorie verleng, en die tweede helfte ingekort. Ek glo die boek se toonaard en dalk selfs tot ’n mate die genre verskil heelwat van die rolprent s’n.
En dis goed so. Nou kan die boek en rolprent mekaar aanvul en nie blote eggo’s van mekaar wees nie. Die basis – daardie liefdesverhaal wat dekades gelede begin het – het meer fasette gekry.
Ek het dus as’t ware opgestaan en vertel wat iemand vir my gefluister het, nes die rolprentmakers vertel het wat húlle gehoor het. ’n Speletjie wat ons almal baie ernstig opgeneem én mee pret gehad het.
François Bloemhof
Nuusbrief
Ontvang The Film Factory se nuusbrief!
ROLVERDELING
ERKENNING
Regisseur: QUENTIN KROG
Vervaardiger: DANIE BESTER
Lynvervaardiger: DRIES SCHOLTZ
Uitvoerende Vervaardigers: HENRIËTTE LOUBSER, MINETTE FERREIRA, JAN DU PLESSIS, ANNEKE ILLET en KAREN MEIRING
Mede-uitvoerende vervaardigers: CHARL VAN DER MERWE, MAHOMED CASSIM en ASGAR MAHOMED
Draaiboekskrywers: TINA KRUGER, SEAN ROBERT DANIELS en QUENTIN KROG
Kinematograaf: BRENDAN BARNES
Produksiemaatskappy: THE FILM FACTORY
Redigeerder: C.A. VAN ASWEGEN
Produksieontwerper: BATHONI ROBINSON
Oorspronklike musiek: BENJAMIN WILLEM
Klankontwerper: PETER CORNELL