Produksiehuise en Vennote

The Film Factory
The Film Factory is een van die mees bekroonde filmproduksiemaatskappye in Suid-Afrika en ontwikkel, bevonds en vervaardig films vir die Suid-Afrikaanse en internasionale markte. Hierdie maatskappy streef voortdurend daarna om ’n baanbreker in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te wees. Onder die ervare leiding van die vervaardigers, Danie Bester en Dries Scholtz, en die uitmuntende span van The Film Factory, word daar voortdurend gewoeker om The Film Factory se reputasie as ’n leier van innovering en uitnemendheid te bewerkstellig.
Danie Bester is die vervaardiger van 22 Suid- Afrikaanse rolprente, insluitend die suksesvolle tienerkomedie trilogie, ‘Bakgat!’, die lokettreffers ‘Ballade vir ’n Enkeling’, ‘Wolwedans in die Skemer’, ‘Hoofmeisie’, ‘Pad na jou Hart’, ‘Vir Altyd’ en ‘Vir die Voëls’. Die krities bekroonde films ‘Roepman’ en ‘Verraaiers’ is deur The Film Factory vervaardig.
Drie van die vyf hoogste Afrikaanse loketverdieners in Suid-Afrika is deur The Film Factory vervaardig.
Dries Scholtz, ’n vennoot vanaf 2012, het ‘Ek Joke Net’, ‘Ek Joke Net 2’, ‘Agent 2000’ en ‘Jou Romeo’ saam met Danie Bester vervaardig en hulle werk tans aan die vollengte film, ‘Meerkat Maantuig’.
Die vollengte films, ‘Vuil Wasgoed’ en ‘Vaselinetjie’, word albei in 2017 uitgereik. Dit is The Film Factory se doelwit om voortdurend daarna te streef om ’n onvergeetlike bydrae tot die kultuur en nasiebou van Suid-Afrika te maak deur die vertelling van hoogs vermaaklike, oorspronklike Suid-Afrikaanse stories met universele aanklank.
The Film Factory is ’n lewensvatbare, sosiaal-verantwoordelike en allesomvattende maatskappy wat die Suid-Afrikaanse kultuur en die filmbedryf ophef, met ware beleggingsgeleenthede vir beleggers en handelsmerkblootstelling vir vennote.

Red Letter Day
Red Letter Day Pictures is ’n televisie- en rolprentmaatskappy wat in Kaapstad geleë is en wat fokus op die skryf, regie en vervaardiging van oorspronklike inhoud vir films en televisieprogramme. Die span van Red Letter Day Pictures is vanaf die teksfase by projekte betrokke om te verseker dat die fondament van elke projek stewig is en trefkrag het. Nadat die teks gewerkskaf en ontwikkel is, bou en span almal kragte saam tydens elke fase van die produksieproses om te verseker dat die films en televisieprojekte van hoogstaande gehalte is.
Met meer as 10 jaar se ervaring in die bedryf, het die span die regie van meer as 100 uur se inhoud vir kykNET, SABC, BBC, National Geographic en M-Net (DStv) behartig. Hulle was ook verantwoordelik vir die vervaardiging en regie van bekroonde kort- en vollengte films, byvoorbeeld ‘Nantes’, die 2014 kykNET Silwerkermfees Kort Film-wenner asook ‘Hollywood in my Huis’.
In 2016, span die produksiespan kragte saam met vervaardiger, Saskia Schiel, vir die rolprent, ‘Vaselinetjie’, gebaseer op die bekroonde, gelyknamige jeugroman.