Danie Bester
Vervaardiger

Danie Bester
Vervaardiger
Danie Bester het oor die afgelope sewe jaar 22 vollengte rolprente vervaardig en word deur baie mense as ’n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse filmindustrie beskou. Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi. Hy het B.Com Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook ’n bekende DJ op die studente-radiostasie, Radio Tuks (TuksFM) was. Hy het die jare 1996 en 1997 in Londen, Skotland en Indië deurgebring.
Danie het in 2002 sy honneursgraad (cum laude) aan AFDA in Rolprent Medium verwerf. Hy het pryse ontvang vir die kort films ‘Skitterwit’ (M-Net New Directions), ‘Die Gevoelsorgaan’ (AFDA) en ‘Cameraboy’ (M-Net Edit), waarvan hy die vervaardiging, regie en draaiboeke behartig het. Tydens sy finale jaar by AFDA is hy aangewys as beste skrywer en beste regisseur. Hy was die vervaardiger van ‘Ouma se Slim Kind’, Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die buitelandse filmkategorie van 2008 se Oscar-toekennings.
Aan die begin van 2007, was Danie een van twee vervaardigers wat deur die NFVF gekies is om Suid-Afrika by die Rotterdam Lab te verteenwoordig, ’n inisiatief van die Rotterdamse Filmfees wat jong vervaardigers van regoor die wêreld die kans bied om besigheidsverbintenisse te vorm. Hy was ook een van drie plaaslike filmmakers wat Suid-Afrika by die Berlin Talent Campus (BTC) verteenwoordig het. Die BTC is ’n program wat tydens die Berlynse Filmfees aangebied word. Danie is ook ’n gegradueerde van die hoogs aangeskrewe Trans Atlantic Partnership – ’n ko-produksie-inisiatief tussen Europa, Kanada en die VSA.
In 2011, het hy die Mr Video-toekenning gewen vir sy bydra tot die plaaslike rolprentbedryf en in 2015 vereer Maroela Media hom met ’n toekenning vir sy bydra tot die Afrikaanse rolprentbedryf. ‘Pad na jou Hart’ wen onderskeidelik in 2014 en ‘Ballade vir ’n Enkeling’ in 2015 die Huisgenoot Tempo Toekennings vir gewildste rolprent van die jaar, en albei is deur Danie en sy Johannesburg-gebaseerde maatskappy, The Film Factory, vervaardig. Danie was betrokke by die vervaardiging van meer as 100 advertensies en musiekvideo’s. Maatskappye waarvoor hy al gewerk het, sluit in Nike UK, Sony USA, Czar Belgium, Happiness Brussels en SAB. Hy het ook die regie en vervaardiging van musiekvideo’s vir kunstenaars soos Jesse Clegg, Karen Zoid, Mandoza, Tumie and the Volume en die jazz-legendes, Sipho Gumede en Pops Mohammed behartig.
‘Bakgat!’ behaal in 2008 groot sukses by die loket en lei tot die vervaardiging van ‘Bakgat! 2’, ‘Bakgat! 3’, ‘Superhelde’, ‘Ek Joke Net 1 en 2’, ‘Night Drive’, ‘Roepman’, ‘Hoofmeisie’, ‘Wolwedans in die Skemer’, ‘Verraaiers’, ‘Musiek vir die Agtergrond’, ‘Pad na jou Hart’, ‘Agent 2000’, ‘Hear Me Move’ en die lokettreffer, ‘Vir Altyd’. ‘Vir die Voëls’, ‘Jou Romeo’ en ‘Sy Klink Soos Lente’ was nog van sy suksesvolle films wat in 2016 vrygestel is.
Sy jongste projek, ‘Vuil Wasgoed’, word op 8 Desember 2017 vrygestel. Danie verskuif stelselmatig sy fokus na internasionale ko-produksies, fasilitering en die ontwikkeling van plaaslike produksies wat internasionaal vrygestel kan word.