Opsomming
‘Vaselinetjie’ vertel die verhaal van Helena ‘Vaselinetjie’ Bosman, ’n wit dogtertjie wat deur haar liefdevolle bruin grootouers op ’n afgeleë dorpie in die Noord-Kaap in Suid-Afrika grootgemaak word. Wanneer die welsyn egter uitvind dat Vaselinetjie nie die egpaar se biologiese kleinkind is nie, gryp hulle in en besluit om Vaselinetjie na ’n staatsweeshuis in Johannesburg te stuur.
Die lewe in Johannesburg verskil hemelsbreed van haar vorige bestaan en is in skerp kontras daarmee. Vir die eerste keer word Vaselinetjie gekonfronteer met die lewe se wrede werklikhede, asook kinders wat deur hulle ouers verwerp is, rook, om vriende te maak en om in te pas. In ’n wêreld waar niemand vir mekaar omgee nie, leer sy ook om nie om te gee nie.
Dit is eers wanneer sy verlief raak op die rebelse weeshuisseun, Texan Kirby, dat sy gedwing word om die ware werklikheid van haar ingewikkelde verlede te konfronteer. ‘Vaselinetjie’ is ’n storie oor die definiëring van die betekenis en oorsprong van ’n mens se identiteit en ras in die warboel van post-Apartheid Suid-Afrika.
Die Storie Agter Die Storie
Corné van Rooyen, regisseur, mede-draaiboekskrywer en -vervaardiger van die jeugdrama ‘Vaselinetjie’ het sy entoesiasme, ervaring en talent gebruik om hierdie storie op film te vertel deur magiese elemente te gebruik en sosiale kwessies deur ‘n poëtiese lens en metafore aan te spreek.
‘Vaselinetjie’ is gebaseer op die roman met dieselfde naam en Anoeschka von Meck (die skrywer) se persoonlike ervarings as ‘n sorgwerker by ‘n kinderhuis in Robertson in die Wes-Kaap.
Die fliek speel tussen 1994 en 2001 af, ‘n tyd waartydens Suid-Afrika groot veranderinge ondergaan het. Helena Bosman, beter bekend as ‘Stukkie Vaselinetjie’, die bynaam wat haar grootouers aan haar gegee het, word op die ouderdom van 11 uit haar tuisdorp in die Noord-Kaap geneem en na ‘n kinderhuis in Johannesburg gestuur.
Corné beklemtoon dat die fliek oor die soeke na identiteit handel. “In plaas daarvan om dialoog en musiek te gebruik om die storie te vertel sal kykers vasgevang word in die beelde en klanke,” sê Corné.
Hy sluit af: “Jong en ouer kykers sal aanklank kan vind met hierdie sielsgedrewe, tydlose fliek wat baie kwessies aanspreek wat vandag se jong mense ervaar.”
Die Roman
Anoeschka von Meck
Bekroonde joernalis en skrywer, Anoeschka von Meck, voel gedrewe om werk te lewer wat so inspirerend is dat dit ’n kopskuif en selfs dalk innerlike genesing by haar lesers te weeg kan bring. As mens en skrywer dra sy dit diep op die hart dat die mense van Suid-Afrika met mekaar versoen sal wees om saam te kan floreer.
‘Vaselinetjie’ is ’n foto van Suid-Afrika in ’n sekere tyd. Die hoofkarakter se vreemde naam wys op twee elemente wat albei universeel voorkom, maar veral in ons samelewing blootgelê word. Dit verwys eerstens na ’n algemeen bekende, nuttige en bekostigbare velroom wat ouers, wie dikwels finansieel swaar trek, se omgee vir hul kinders verteenwoordig. Iets wat al geslagte lank aan Suid-Afrikaners bekend is.
Aan die skadukant egter, verwys dit na iets anders wat óók al vir generasies in ons land ‘bekend’ is en in baie huise ‘teenwoordig’ is. Dit is die seksuele mishandeling van kinders, waar allerdaagse huishoudelike produkte as lubrikante gebruik word om jong slagoffers se lyfies mee te verniel. Aan die een hand spreek dit dus van koestering, versorging en ouerliefde teenoor misbruik, waardeloosheid, naamloosheid en die seksuele objektivering van kinders.
‘Vaselinetjie’ as die naam van die hoofkarakter van hierdie eg menslike storie, bevat binne-in haarself die volle spektrum van hoe die mens na hul ware identiteit soek, hoe die lewe hul verwond en in hierdie geval, hoe sy dít waarvan sy eens ’n slagoffer was, triomfantlik oorkom en as volwaardige persoon bo haar omstandighede uitstyg. Dit is nie net die verhaal van ’n Suid-Afrikaanse kinderhuiskind waarvan haar ras en herkoms twyfelagtig is nie. Dit is die verhaal van ’n nasie. Aan die einde van die verhaal is Vaselinetjie nie meer ‘wit’ of ‘bruin’ of ‘baster’ nie. Sy is haarself. Sy is tuis in haar eie vel, haar eie lewe, haar eie land.
Von Meck het gedeeltelik in McGregor grootgeword, maar beskou haarself as hoofsaaklik ’n Namibiër omrede haar ouerhuis op Hentiesbaai was. Sy het haar loopbaan as joernalis by Die Republikein in Windhoek begin en het later as senior joernalis by Rapport in Kaapstad, gewerk. Sover het sy drie boeke geskryf, waarvan ‘Vaselinetjie’ die bekendste is.
In 2005 word ‘Vaselinetjie’ met drie literêre pryse bekroon: Die M.E.R.-prys vir Jeuglektuur, die Jan Rabie-prys vir Vernuwende Afrikaanse Prosa en die M-Net-prys vir Afrikaanse tekste in kort formaat. Die daaropvolgende jaar ontvang dié boek nog ’n besondere eer toe ‘Vaselinetjie’ in die International Board on Books for Young People opgeneem, en sodoende deel van ’n rondreisende uistalling van die beste jeugboeke ter wêreld word. Hierdie is ’n merkwaardige eer aangesien min boeke wat nie Engels is nie ooit dié gesogde lys maak. ‘Vaselinetjie’ word ook met ’n ATKV-Kinderboektoekenning vir Graad 8 tot 10 bekroon en is reeds in haar 21ste druk.
As joernalis, het Von Meck ook verskeie toekennings behaal en in 2014 het sy die gesogde en mees mededingendste Harde Nuus-kategorie vir gemeenskapskoerante gewen.
In 2016 het Von Meck, wat ’n voorliefde vir stofpaaie het, vrou-alleen deur Suid-Afrika as ‘Afrikaans se Boesemvriendin: Oppad met Afrikaans’ vir Afrikaans.com gereis. Die doel hiervan was om ’n reeks onderhoude – van ‘Lekkersing in die Richtersveld tot Rosendal in die Vrystaat’ – te skiet wat die lieflike spraakvariante van ons pragtige taal demonstreer.