Adam Bentel
Kinematograaf

Adam Bentel
Kinematograaf
Adam Bentel is ’n kinematograaf. Op stel staan hy as die Director of Photography bekend en is hy daarvoor verantwoordelik om die storie wat in die draaiboek omvat word visueel uit te beeld.
Hy glo hy is meer ’n holistiese filmmaker. Adam is nog altyd verlief op stories. Sy familie is uiters kreatief en literatuur en musiek het altyd ’n massiewe rol in sy grootwordjare gespeel.
In sy opinie is musiek die mees antieke vorm van storievertel terwyl die maak van films die jongste is.
Adam was nooit geïnteresseerd in stilfotografie in sy kinderjare nie. Hy het egter baie belang gestel in tekeninge, kuns, die natuur en ander vorms van visuele mediums wat tot ’n jong seun wat in Suid-Afrika grootgeword het se beskikking was.
Op vyfjarige ouderdom het hy films ontdek en hulle effek op hom het nog steeds ’n groot emosionele impak. Hy sê ’n film kan onthullend en insiggewend wees terwyl dit steeds uiters subtiel bly. Die nuanses wat hy ontdek het, het hom aangespoor om bewegende beelde te skep wat duidelike en eenvoudige stories vertel.
Daarom het hy besluit om na AFDA Filmskool in Johannesburg toe te gaan. Hy het aanvanklik nie geweet daar is ’n kuns of dissipline soos Kinematografie nie en het Regie gaan studeer.
’n Vriend van Adam, nou ook ’n bekroonde kinematograaf, het aanbeveel dat hy sy graad verander en ’n kinematograaf word.
“Dit is die beste raad wat ek gekry het en ek het nog nooit teruggekyk nie. Filmmaak is my lewe en my loopbaan,” sê Adam.